Wanneer ‘n keiser MAGICAL is.

2015-05-04 11.24.32

Hallo daar!

Nou ja, ek het belowe om die storie van ons roosknoppie se geboorte te vertel en hier is hy!

Ons het Sondagmiddag 3 Mei vir ons groot seun totsiens gesê en hy is na ouma toe. Die middag het ons net ontspan en DVD’s gekyk. Die aand het ons vroeg in die bed gespring. Ek het daardie nag nie ‘n oog toegemaak nie… Grootendeels omdat ek ‘n uitslag op my bene ontwikkel het van “bubblebath” waarin ek gebad het saam my seunie die Saterdagaand. Dit het so gejeuk dat dit gevoel het of ek myself gaan stukkend krap!! Teen die oggend was dit weg… Ons het vroeg opgestaan en rustig begin klaarkry vir die hospitaal en my trane was maar bietjie vlak. Alhoewel ons baie opgewonde was! Die boodskappe van sterkte toewense het ingestroom en almal was in rep en roer om hierdie pop te ontmoet!

Ons het so net voor 9 die oggend vertrek hospitaal toe. Ons moes eers 10uur inboek, maar ons was alreeds half 10 daar! Ek is opgeneem en is na my privaat kamer geneem. Ek het ‘n privaat kamer gekies omdat die vorige keer se hospitaal verblyf nie baie rustig was nie en ander my gereeld gesteur het. Ek weet ek klink soos ‘n diva, maar ek wou nie weer so moeg huistoe gaan soos die vorige keer nie. Ek het ons goedjies uitgepak en myself lekker uitgestrek op die bed. Baie opgewonde en babbelend het ek die suster vertel dat sy ook aan diens was met ons seun se geboorte en dat sy ook na hom omgesien het.

Sy het die monitor op my gesit om kontraksies en die hartkloppie te meet. Snaaks genoeg het hul kontraksies opgetel, nie genoeg vir normaal kraam nie, maar ek sou beslis hierdie week vanself in kraam gegaan het. Dit was baie interessant! Na die monitor het die lang wag begin…. so teen 11uur of half 12 het ‘n paar susters in die kamer ingekom en my ingelig dat dit nou amper tyd is! Ons is vroër gesê dat ek geboek is vir 15:09 vir teater, maar toe dink ek, dat ek moontlik vroër sal kan ingaan. uhm…. dit het nie gebeur nie….

Ek is toe geprep vir teater. Die drip is ingesit en die…. KATETER!!!! Ugh!! Worst part of my day!! Daardie ding het so seergemaak en was so ongemaklik… Ek het heeltyd gekla, want toe kry ek pyn saam met kontraksies. Ek was baie moeg, so toe het manlief ‘n draai gaan ry en ek het bietjie probeer slaap. Dit het gehelp om die tyd om te kry.

Net na 3 het die portiere my kom haal en ons was almal in ‘n ligte luim! Die opgewondenheid was oorweldigend! In die wagkamer het die susters met my gesels en het die narkotiseer en assistent suster hulself kom voorstel. Hul was almal sommer baie opgewonde saam met ons!

Ek het voor af besluit dat ek elke sekonde van die geboorte wil inneem, en ek het!

Soos hul my ingestoot het, het ek die koue lug van die teater ingeasem en myself kalmeer. Ek het oorgeklim na die operasie tafel en is aangesê om my bene van die kant te laat afhang terwyl ek so na moontlik aan die rand van die bed sit. Een van die susters het vir my ‘n kussing aangegee en gesê ek moet my arms oorkruis en die kussing vashou terwyl ek vooroor buig met my rug. Die narkotiseeur het begin om die spinaal te doen. Sy het my doodgespuit en probeer om die naald in te druk. My rugwerwels was te na aan mekaar en het sy vreeslik gesukkel, dus het sy dit toe so bietjie hoër ingesit. Ek het dadelik ‘n warm gevoel in my bene gekry en is op my rug gelê. Die assistent suster het gevra of ek iets voel, ek het gevra, “wat voel?” sy was besig om my te knyp, maar ek het niks gevoel nie. DANKIE TOG!!!

Net vir die rekord, ek dink ons mammas wat deur ‘n keiser gaan terwyl ons wakker is, is so effe cray-cray!! Dis ‘n baie groot buik operasie eintlik, maar ons sal enigiets doen om daardie eerste huil te hoor en ons babas gesond en veilig in die lewe te bring..

Toe word ek naar en duiselig….

My bloedruk het verskriklik vinnig geval en die narkotiseur moes vir my so bietjie iets ingee om dit weer op te bring en ook saam suurstof. Die suurstof masker het my nog meer naar gemaak en ek het begin “gag”. Gelukkig was daar niks in my maag nie!! So toe hou hul maar die suurstof pypie so by my neus. Dit het dadelik gehelp en was ek gereed vir die ding! Die dokter het ingekom en gevra of ek reg is en ek het vir hom gesê “sny”! Ons het land en sand gesels en ek het behoorlik gebabbel. Totdat my man my bietjie stilgemaak het…. hahahaha!

Sekondes later het ek gehoor hoe een van die susters sê dat ons poppie vreeslik baie hare het! Pappa het die kamera reggekry en net daar het ons haar hoor skree!! Elf minute oor vier! Net toe hul haar bo-lyf uitlig het sy onmiddelik ‘n gil gegee en toe vloei hierdie mamma se trane. Dokter het so oorgeloer na my en verder gewerk. Haar stemmetjie het deur die teater weergalm en dit was pure magic om haar te hoor. Sy was heeltemal bedek met die vernix en spierwit daarvan! My hart was oorstelp van vreugde om te hoor en sien dat dit werklik ‘n dogtertjie is!! Ja, dit het eers na die geboorte ingesink dat ons ‘n dogtertjie ontvang het. 😉

Ek kon sien hoe die suster met haar werk en haar naelstring korter knip, en toe…. toe sit hul haar bo-op my borskas neer vir “skin to skin” en ek sal nooit vergeet toe ek haar gesiggie vir die eerste maal gesien het nie. Sy het nog so hard gehuil, maar toe hul haar op my neersit was sy onmiddelik stil. Sy het dadelik besef dat sy by haar mamma is.

Dokter het my wond geheg en ek is netso met haar op my bors oorgelig na die bed toe. Ons het so ruk in die recovery room gewag sodat my temperatuur en bloedruk kon normaliseer en ons is uit gestoot.

Ons is so deur die gange weer terug gestoot na die kamer toe. Sy het, soos haar ouboeta, ‘n baie goeie apgar telling gehad en was die broeikas nie nodig nie. Die verpleegsters wou my nie glo toe ek hul vooraf sê dat ek gesonde, sterk babas groei nie… hahahaha! Amper in die kraamsaal het ons my moeder en skoonmoeder in die gang gekry. Hul was albei so nuuskierig om haar te sien, maar ek het toegehou, want ek wou hê ouboet moet haar eerste sien. 🙂

Terug in die kamer het ek haar aan die verpleegster oorgegee om geweeg en gemeet te word. Sy het 3,63kg geweeg en was 51cm lank! “n pragtige gesonde baba dogtertjie. My man het haar vir my gebring en my hart het geswel van trots! Ek het haar dadelik aan die bors gesit om te voed en ouboet is geroep om te kom kyk.

Met die instap het daar iets ongeloofliks gebeur…. Soos wat hy ingekom het en om die bed gestap het om sy sussie te ontmoet het my kind ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Hy het reg voor my oë binne sekondes verander. Sy gesiggie het verander na die van ‘n kleuter en hy het volwasse geraak. (So volwasse soos ‘n kleuter kan wees.) Maar hy was dadelik so trots op haar en lief vir haar. Hy wou haar dadelik soen en vashou. My hart raak sommer bewoë wanneer ek aan daardie oomblik dink.

Nou ja, julle weet hoe hard ek gebid het vir ‘n normale geboorte, maar dit was nie moontlik nie. Die keiser was steeds vir my ongelooflik!! Ek het elke liewe sekonde ingeneem en aangepak sonder vrees. My hart het gejubel en gejuig toe sy gebore is! En weet jy wat… Hul praat steeds daarvan dat jy “geboorte / lewe skenk” al gaan jy vir ‘n keiser.

Ek het voorheen minderwaardig gevoel omdat ek nie normaal kon kraam nie, maar na hierdie ondervinding wil ek vir elke liewe keiser mamma ‘n medalje gee! Dit vat guts om wakker te wees in so operasie. Dis eintlik bietjie heavy weird, maar ons sal enigiets doen om gesonde babas te hê wanneer ons liggame anders sê. High five!!!

Toodles!!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s