Liefde uit die lande – Deel 1

31 Mei 1902

Die vroeë oggendmis hang nog laag oor die konsentrasiekamp. Die tent se deurflap is half afgeskeur na die vorige nag se geveg teen die soldaat. Riana lê in die fetusposisie opgekrul op die drie lae dun komberse. Haar spiere voer kort ritmiese sametrekkings uit soos die koue tot in murg en been sny. Nadia is uiteindelik rustig. Riana het haar probeer kalmeer na die skrikwekkende aanval van die soldaat. As Riana nie daar was nie sou hy haar sekerlik van haar eer ontneem het. Die klok vir aantree lui. Riana kom stadig orent en maak vir Nadia wakker. “Ma. Ma?” Sy skud Nadia se skouers effens. Nadia kreun. Haar regter oog opgeswel en donker sukkel om oop te gaan. “Ma, ons moet aantree.” Sy help Nadia stadig opstaan. Sy is swak van wanvoeding. Riana se arms bewe soos sy Nadia probeer regop hou. Met ondersteuning stap Nadia en Riana uit.

Die ry by die waskomme is lank. Die gekibbel van die rivier oor die klippe is kalmerend in ‘n tyd van omweer. Die water na-aan die kamp maak die koue soveel erger. “Goeiedag Riana. Nadia.” Mariaan kom nader gestap. Knik met die groet. “Dag Mariaan.” Mariaan praat agter haar hand. “Vandag is ons vry.” Sy glimlag effens en knipoog. Nadia forseer ‘n glimlag. Twee jaar in hierdie hel van ‘n plek. Vryheid? Na wat toe? Na die verskroeide aarde beleid wat haar opperste beveel het is daar niks van die Liefdeland plaas oor nie. Hulle het tot die grafte verbrand. “Vryheid na waarheen Mariaan?” Riana probeer Nadia kalmeer. “Ma, ons het hierdie twee jaar oorleef. Ons sal die plaas herbou.” “Waarmee? Ons is net twee vroue? Wie gaan ons help plant of lande bewerk?” Riana kyk sagkens na haar skoonma. “Wie het gesê ons is net twee? Tilla kom ook saam en ek is seker ma se twee seuns sal vir ons almal wag. Vir al wat ons weet het hul alreeds begin op die plaas.”  “Moenie so negatief wees nie Nadia. Die Here het ons hierdeur gehelp en Hy sal ons weer help opstaan. Die boere kom altyd terug. Jy weet dit!” Mariaan probeer vir Nadia moed inpraat; dit gaan moeilik. Nadat Nadia en Riana gewas het stap hul nader na die kospotte. Die laaste keer wat hul ‘n ete sal hê vir wie weet hoe lank. Hul eet stadig en drink die water moeisaam. Dit is ‘n dag van vryheid, maar daar is ‘n droewigheid oor die vroue in die kamp. Die ouer geslag wat oorleef het sal moontlik net tot op die dorp kan reis. Kinders en vroue wat gesterf het in die kamp sal nooit die smaak van vryheid ken nie, maar vir hoe lank sal hul vry wees?

Riana pak die laaste paar stukkies lap in ‘n klein rugsak gemaak van ‘n ou meelsak. Nadia vee oor die bed waar sy die afgelope twee jaar haar kop neergelê het. Die grond waar sy elke nag gekniel het om te bid vir vryheid. “Ma?” Riana gaan sit langs Nadia en vat haar hand. “Gaan ons vir oulaas hier kniel” Nadia knik en dan kniel hul albei. Riana bid. “Vader, dankbaar is ons vandag vir die vryheid wat U aan ons voorsien het. Ons vra nederig dat U nou ons voete sal lei terug plaas toe en ons sal beskerm op die reis. Dan Here,” Riana asem diep in. “Watokal ons sal vind op die plaas, voorsien asseblief vir ons sodat ons alles weer kan opbou en ook ander om ons daarmee kan seën. Amen.” “Amen” Nadia stem saam, maar bid nie verder nie. “Dankie my kind.” ‘n Traan drup uit Nadia se linker oog soos sy haar oë sluit om krag bymekaar te skraap vir die reis. Tilla staan buite die tent en wag met geboë hoof. Riana en Nadia kom uitgestap. “Ek het vir ons ekstra brood gevat vir die reis, die waterbottel was gekraak so ek kon nie water kry vir saamvat nie.” “Dankie Tilla.” Riana glimlag. “Kom ons gee ons eerste treë na vryheid.” Hulle vat hande en dan stap die drie vroue in hul swart rokke met wit krae en wye swart kappies na die hek.

‘n Soldaat is besig om briewe uit te deel. Tilla stop by hom. “A letter for your mother-in-law.” Tilla knik net. Sy weier om hul taal te praat. Nadia neem die brief by haar. Sy lees en sak dan inmekaar met rou snikke wat soos ‘n dier se klanke uit haar mond kom. Riana vat die brief. Sy kyk op na Tilla. Bleek en snakkend na asem. “Johannes en Paul het gesneuwel op die oorlogsveld.” Sy sak af en vorm ‘n koepel van beskerming oor Nadia met haar arms. Al drie die vroue huil by die hek. Nog nooit was vryheid so bitter nie. ‘n Ruk later staan Riana op. “Ons moet aangaan. Hy wat by die Here skuil…” “Ons weet.” Sê Tilla. “Maar waarheen nou? Daar is niks op Liefdeland oor nie. Ons het al drie gesien hoe hulle elke stukkie verbrand.” Haar stem is rou en vol haat. Nadia kyk op. “Ek gaan terug plaas toe. Ek sal daar sterf. Riana, Tilla. Gaan terug na jul eie families. Hulle sal vir jul nuwe sterk mans vind en jul kan gelukkig oud word.” Tilla knik gehoorsaam. Riana skud haar kop. “Die dag toe ek my ouerhuis verlaat het, het ek gesê tot die dood ons skei. Die dood het my en Paul geskei, maar ma is steeds deel van my. Waar ma gaan sal ek gaan.” Nadia het nie die krag om haar teë te staan nie. “Nou maar goed. Tilla, jy is meer as welkom om ook saam te kom.” Tilla kyk af en vroetel met haar hande in haar skoot. “Ek is jammer ma. My ouers gaan my nodig hê op die plaas. Hulle het nooit seuns gehad nie, so hulle sal elke bietjie hulp wat hul kan kry kan benut.” Nadia vat Tilla se hand. “Goed. Dankie dat jy goed was vir my seun. Jy is altyd welkom om te kom kuier.” “Totsiens ma. Totsiens Riana.” Die drie vroue groet mekaar swaar, verdeel die brood en dan stap hul in teenoorgestelde rigtings. Die son breek deur die digte miswolke.

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s