Liefde uit die lande – Deel 2

Nadia trek haar wye kappie effens oor haar oë om die son te keer. Sy kyk op na die koppie wat hul moet oor. Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? Die woorde van Dawid weergalm in haar gedagtes. “Wil ma ‘n rukkie sit?” Riana wys na ‘n rots. Nadia gaan sit moeilik. Dit was ‘n lang ent op rivierlangs en nou is dit net die laaste entjie. Oor die koppie. Drie dae is hul al op reis en nognie ‘n enkele asem in sig of in die verbygaan nie. Riana het ‘n bos wilde bessies langs die rivier gekry en genoeg gepluk vir die laaste ent Liefdeland toe. “Hoe voel ma?” “Ek dink ek sal dit maak.” Sy glimlag effens. “Wat het ek ooit gedoen om ‘n skoondogter soos jy te verdien?” Riana vat Nadia se hand en druk dit sagkens. Sy kyk reg in haar oë. “Dogter ma. Ma was nog altyd soos my eie.” Hulle eet die bessies in stilte en neem ‘n paar slukkies water langs die oewer van die rivier. Wanneer Nadia drink staan Riana wag en andersom. “Is ma gereed?” “As ons nie nou gaan nie sal ek nooit gereed wees nie.” Ma en skoondogter vat hande en begin die koppie betree. Onseker oor wat of wie hul op die plaas sal aantref.

Die ou opstal en werkershut lê reg aan die voetenent van die koppie. Al wat bly staan het van die plaas is die helfde van die skuur. Die grasse staan hemelhoog en rankplante het teen die opstal se een muur toegerank. Iemand stap by die werkers hut uit. Riana gryp Nadia se arm vinnig en trek haar ondertoe. Wieokal daar onder loop sal hulle sekerlik raaksien. “Wat maak ons nou ma?” Riana is kort van asem. “Ek weet nie wat jy wil maak nie, maar niemand gaan sommerso op my Petrus se plaas kom rondloop en dink hy maak homself tuis nie. Dis jammer ons het nie nou ‘n skietding nie.” “Haai ma! Ma kan mos nou nie so wil sê nie. Gaan ons afstap?” Nog voor Riana kan klaarpraat is Nadia al halfpad by die koppie af. Sy roep hard na die vreemdeling en probeer hom wegjaag. Daar het eweskielik ‘n vuur in Nadia vlamgevat en niks sal haar keer as sy eers so lostrek nie. Riana hardloop agterna en val oor ‘n klip. Sy roep hard na Nadia, maar die het nou net een rigting voor kop en dit is om daardie persoon vas te vat.

Nadia kom om die hoek van die opstal tot stilstand. Sy vryf haar oë. “Josef? Is dit jy?” Die plaaswerker staan op die stoep van die opstal. “Mevrou?” Hy gooi albei sy hande in die lug en lag.Hy stap nader. “Josef! Ek het gedink jy was saam met die twee kleinbase.” “Ek, ek was. Ek het hierso weer gekom. Ek julle soek.” Hulle omhels mekaar. Riana kom uitasem aangehardloop en gaan gebukkend tot stilstaan langs Nadia. Sy hyg en blaas. Probeer haar asem terug kry. “Ma. Ma doen dit nooit weer aan my nie.” Nadia kyk skuins oor haar skouer af na Riana wat nou plat op die grond sit. “Ag toe nou. Iemand moet hierdie plaas beskerm.” Riana skud haar kop. Rus haar elmboë op haar knieë. Dan kyk sy reg in Josef vas. “Slaat my dood. Josef!” Sy soek nog na asem. “Ek is so bly dit is jy en nie een of ander rondloper nie.” Josef kyk om hulle. “Tilla?” Nadia knik in die rigting van die koppie. “Terug na haar ma’le toe. Wat is hier oor?” Sy staan met haar hande in haar sye. “Die skuur hy het so klein bietjie aartappels gegroei en klein wortels.” Nadia skud haar kop. “Ons sal maak wat ons kan.” Riana staan op en stap die opstal binne. Die dak het heeltemal afgebrand en hier en daar is iets wat nog staan. Hoeveel daarvan gebruik kan word is onbekend. Dan sien sy ‘n boek in die hoek van die ou kombuis. Onder ‘n klip wat bo-op dit geval het. Sy stof dit af.

Riana kom uitgestap met die boek in haar hande en ‘n glimlag van hoop. “Wat het jy daar?” Nadia stap nader. “Ons familie Bybel.”

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s