Liefde uit die lande – Deel 5

Benjamin en Josef laai voer op die perdekar. Riana kom uitgestap met vars koffie. “Waarheen is julle twee oppad?” Benjamin haal sy hoed af. Josef ook. “Ons gaan vir oom Petrus-hulle langsaan voer vat vir hul perde.” Benjamin vat die koffie en gee vir Josef aan. Soos hy opkyk sien hy die sagte glimlag plooitjies om Riana se mond. Sy oë dwaal teen haar neklyn af. Sy dra nie meer swart nie. Haar rou tydperk het tot ‘n einde gekom. Dit is ‘n hele jaar na die skriknag. “Skort iets?” Riana kyk verward na Benjamin. Hy skrik en lyk verleë. “Nee, nee. Ek is maar net ingedagte. Jy weet; oom Petrus wil my aan sy dogter voorstel?” Hy toets die waters. “O so. Nou dan moet jy seker maar gaan. Geniet die geselskap.” Riana draai grasieus om en loop die opstal binne. Sy het besluit om in die opstal te bly. Benjamin bly steeds in die hut; al is dit sy plaas. ‘n Man respekteer ‘n vrou se privaatheid. Veral ‘n vrou wat so met vuur en vlam aanmekaar gesit is. “Baas. Ek sien vir jou. Jy sien vir mies.” Benjamin swaai oprukkerig om. “Ag issie man. Sy is vir my mooi, maar sy hou nie van my nie.” Josef klim saam Benjamin op die perdekar. “Baas weet. Daai aand met die skelms. Mies was oppad na jou toe.” “O nè?” “Ja, ek het haar gesien loop daarso met die lamp.” “Hoe weet jy sy was oppad na my toe?” “Sy het die kers by haar gehad.” Dan jaag Josef die perde aan. Tyd om by oom Petrus te kom.

Die dag is lank en warm. Ta’ Lettie het middagete voorgesit. REgte boerekos. Rys, vleis, aartappels en groente. Oom Petrus sit aan die hoof van hul tafel, Benjamin oorkant hom en ta’ Lettie tussen die twee mans. Josef sit by die ander plaaswerkers en eet. “Hoe gaan dit met jou en Riana?” Oom Petrus kyk op. “A nee a vrou. Ons vra hulle mos nie uit oor hul persoonlike dinge nie.” Benjamin bloos en sit dan sy mes en vurk neer. Hy sit met elmboë op die tafel en hande gevou voor sy mond. Hy herkou aan ta’ Lettie se vraag. “Tante. Ek hou van haar, maar ek weet nie so mooi nie. Sy lyk baie gemaklik so op haar eis in die opstal.” Oom Petrus kyk nou ernstig na Benjamin. “Julle word ook nie jonger nie. Sy is ook al twee en twintig en jy vyf en twintig. Julle koppe moet sekerlik ook nou al dink aan jul ou dag? Wie gaan in elke geval nou kom vlerksleep by haar?” Benjamin kyk verleë na oom Petrus. “Oom. Ek is nie seker of sy so baie van my hou nie. Dit lyk nie so nie.” “Hoe kan jy so sê? Ons het al gesien hoe sy na jou kyk. Sy het baie respek vir jou.” “Ek het nognie so opgemerk nie oom.” Hy lag. “Meskien moet ek maar die opsitkers vir haar aandra.”

Riana is saam met Sarah besig in die kombuis. Josef en Benjamin het ‘n nuwe vuur oond gebou en nou bak en brou die twee vroue so baie die hele dorp kan omtrent daarvan eet. Melktert en koeksisters. Vetkoek en potbrood. Moenie van die beskuit vergeet nie. Riana se hande staan vir niks verkeerd nie. Sy deligeer so hard as wat sy werk. Sy het die grootste respek vir die werkers. Toe Benjamin en Josef aangery kom met die perdekar is Riana besig in die koringland. Rys is baie duur, dus het Josef ‘n koringland aangebring. Sarah is besig om wasgoed op te hang net duskant van die klein area waarop Riana werk. Met die aanry sien Benjamin vir Riana raak. Haar rok se plooie aksentueer haar heupe en haar middel is smal. Met die oorbuk om koring te sny lig die agterkant van haar rok tot net bo haar enkels. Daar is darm niks meer aanloklik vir ‘n man soos Benjamin as ‘n vrou wat haar liggaam van bo tot by haar enkels versorg nie. “Ag Here help my. Ek gaan in die versoeking val. Gee my tog ‘n uitweg.” Josef wip soos hy skrik met Benjamin wat so skielik praat. “Nou baas?” “Ek praat sommer met myself.” Hy waai sy hand ergerlik asof om die gedagte weg te jaag.

Josef neem die perde terug stal toe. Benjamin stap reguit na sy hut toe. “En nou? Wat is dit met hom?” Vra Riana vir Josef. “Mies, die baas. Hy sien vir jou.” Sy bloos. “Nou toe nou. Hy is tog nie van klip gemaak nie.” Riana stap nadenkend opstal toe.

Na ‘n jaar van rou is dit tyd om Nadia se kamer op te pak. Riana was nognie weer daar in na die begrafnis nie. Alles is nog presies soos dit gelos is. Sy begin skoonmaak. Skuif die katel en enkel stoel om onder dit skoon te maak. Sy was die vertrek van hoek tot kant. Nadat sy die beddegoed opgevou het gaan sit sy op die rand van die katel en neem die familie Bybel op. Sy het haar eie Bybel. Die familie Bybel het sy nog altyd as heilige grond beskou. Sy vee haar smal gladde hand oor dit. Dan maak sy dit oop. ‘n Brief val uit.

My liewe dogter,

Ek sien die eensaamheid wat jou omvou. Ek sien die verlange wat aan jou knaag. Moenie bang wees vir Benjamin nie. Hy dien die Here met die hart van ‘n leeu. Hy is sterk. Innerlik en uiterlik. Hy is aangenaam om na te kyk en betroubaar. Ek wou nie hierdie in persoon vir jou sê nie; ek is nie seker hoe jy sou voel nie. Gaan na hom toe. Neem die vrymoedigheid en sê vir hom hoe jy voel. Nooi hom vir ete. Ek sal graag sy intensies met jou wil hoor. Ek sien tog ook die verlange in hom raak. Volg my raad:

Vanaand wanneer almal slaap en Benjamin sy kers doodgeblaas het. Neem die opsitkers en gaan na sy hut toe. Sit dit in sy vensterbank sodat dit sy kamer verlig. As hy opstaan en vir jou oopmaak sal hy jou liefde beantwoord. As hy nie doen nie sal ons weet die Here het ‘n ander plan met jou.

Liefde Ma.

Na aandete is Benjamin terug na sy hut toe. Riana mak ‘n waskom vol stomende water. Sy was haar skoon. Sy was die rou af. Sy was die verlange na haar man weg. Nadia het ‘n fyn botteltjie rooswater agtergelaat. Die reuk het nog lank nie verslaan nie. Riana wend dit aan haar polse. in die kuiltjie agter haar ore en in die holte van haar nek. Sy kam haar fluweel donker hare glad en laat dit oor haar skouers hang. Dan trek sy haar mooiste rok aan. Sy hou Benjamin se hut uit haar kamervenster dop. Hy blaas sy kers dood. Dit is tyd om te gaan.

Riana kom vyf tree van die hut af tot stilstand. Haar hart klop in haar ore en haar asem jaag. “Bedaar Riana.” Probeer sy onderlangs haarself moed inpraat. Die tyd het aangebreek. Sy stap vorentoe en gaan sit haar kers in sy vensterbank. Die weerkaatsing in die venster helder die kamer op.

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s