Die geheime boek – Deel 3

Die verbeelding is ‘n snaakse plek. Jy kan herwaarts en derwaarts gaan nes jy wil. Wolke kan van spookasem gemaak wees en die maan van kaas. Perde kan horings kry en aan die einde van elke reënboog is daar ‘n pot vol goud.

Soekie lees die brief weer versigtig deur. Hoe gaan hierdie boek moontlik haar lewe kan verander? Hoe kan iets wat op papier geskryf is haar verander?

Nes elke boek wat geskryf word besit daardie boek die krag om die leser te verander. Natuurlik hang dit alles van die leser af en op hoe hoë vlak hul verander wil word. Enige boek kan jou uit realiteit laat ontsnap, maar wil jy?

‘n Voëltjie tik tik aan Soekie se kamervenster. Dit is ‘n helder sonskyn dag en die eerste lentebriesie roer deur die jongblare van die boom buite Soekie se kamer. Soekie spring uit haar bed. Opgewonde oor die nuwe seisoen. Lente is immers haar gunsteling seisoen. Al reën dit gereeld geniet sy die vars en skoon lug elke oggend. Die voëltjie tik tik weer aan die venster. Soekie staan nader en maak oop. “Hello, lieflike dag wat ons het?” Die voëltjie tjirp en draai sy koppie skuins. Soekie haal ‘n paar broodkrummels uit haar kosblik en strooi dit op die vensterbank voor die voëltjie se pootjies. “Weet jy. Ek wens ek was ‘n voëltjie soos jy. Dan kon ek wegvlieg van al die nare dinge in die lewe.” Sy swaai in die rondte met haar arms wyd gesprei. Die voëltjie pik die krummels gou op. Soekie stut haar palm onder haar ken met haar elmboog wat op die vensterbank rus. Die voëltjie tjirp weer. “Ag dit is net ‘n plesier. Kom  môre weer hoor.” Soekie giggel vir haarself. Draai om en begin haar skoolklere aantrek.

Haar skoene het onder die bed beland. Sy gaan lê op haar maag om dit in die hande te kry. Dit is donker onder haar bed. Sy voel voel na haar regter skoen. Vat iets raak en trek dit uit.

Die boek.

“Genade. Hoe het jy hier onder beland? Ek dog jy het weggeloop.” Sandra klop aan die deur. “Ek gaan solank kar toe.” Roep sy. “Ok mamma.” Soekie gaan sit om haar skoene aan te trek. Die boek val oop by dag een. Soekie is geken as iemand wat geen boek kan los nie en netso kan sy ook nie hierdie een los nie.

Dag 1

Om hierdie taak ‘n sukses te maak moet jou hart skoon wees. Voordat jy hierdie taak verrig moet jy eers vir almal wat jy moontlik kon tenagekom het gaan omverskoning vra. Indien jy dit nie doen nie sal jou taak onsuksesvol wees en daarop sal die volgende nege take ook dan onsuksesvol wees. 

Soekie dink so oomblik. Wie dink sulke snert uit. Dan blaai sy om.

Jou eerste taak sal wees om die saad van jou gunsteling plant te kry. Plant dit dan volgens die instruksies vir daardie plant. Onthou, as jou hart en gewete nie skoon is nie sal die saad nie ontkiem nie.

Soekie klap die boek toe en draf kar toe. Sy skud haar kop. Sekerlik is daar baie suksesvolle tuiniers met swaar gewetes.

Sandra het die skedonkie al aangeskakel. Soekie drafstap vinnig. Spring in en slaan die deur toe. “Jy is in ‘n goeie bui vandag.” Sandra glimlag vir haar en druk Soekie se hand saggies. “Sommer ‘n nuwe boek wat ek lees.” Voor Soekie dit kan keer borrel die woorde uit. “Mamma, ek is jammer dat ek nou-die-aand so ombeskof en ondankbaar was.” Sy bloos. Sandra sit die motor in tru-rat en kyk is die tru-spieël. “Als reg my skat.” Sy glimlag sag. Soekie se hart voel ligter.

Die dag by die skool is lank. Meneer van Der Merwe se wetenskaples was weer minder insiggewend, maar effens vinniger. Elke keer wat Jana verby Soekie stap probeer die woorde uitkom, maar Soekie keer. Die laaste maal draai Jana om. “Soekie, is daar iets wat jy vir my wil sê?” Dan borrel dit. “Ek is jammer dat ek ‘n stinkbom in jou hare gegooi het in standerd ses. Ek is jammer dat ek gesê het jy het vislippe. Ek is jammer dat ek gesê het jy het niknak tone.” Soekie kan haar ore nie glo wat sopas uit haar mond gekom het nie. Jana gaap haar ook aan. Dan sit sy haar hand op Soekie se skouer en sê: “Ek is jammer dat ek gesê het jy is ‘trailer trash’.” Soekie bloos. “Ek vergewe jou.” “En ek vir jou.” Jana draai om en stap Wiskunde klas toe. Johan kom aangestap. Hy het die hele affêre gesien. Hy staan voor Soekie. “Dit was baie braaf van jou.” Sy glimlag en stap na haar volgende klas.

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s