Die geheime boek – Deel 5

Die lewe het ‘n geneigdheid om snaakse draaie met jou te loop. Dit is hoe jy reageer op de balle wat gegooi word wat dit die moeitewerd gaan maak.

Sandra sit die foon neer. Dit is nog net gister wat sy afgelê is. Hoe is hierdie oproep moontlik? “Wie was dit?” Vra Soekie met die instap. Sy is ‘n emosionele eter en is op die laaste pak chips wat in die kas was. “Die universiteit. Hulle wil hê ek moet hul rekeningkunde klas lektor aflos vir die volgende drie maande.” Soekie gooi haar arms en die chips in die lug. “Wonderlik!” Die pak chips vlieg die hoogte in. Sandra loer oor haar bril. “Die stofsuier is op sy gewone plek.” “Ja ma…” Soekie loop halfhartig na die gangkas. Sy draai om. “Hoe het hulle van ma gehoor?” “Ek weet nie. Ek het werklik geen idee nie.” Sy trek haar skouers op en skud haar kop. Dan stap sy kombuis toe vir middagete.

Dag 2

Jy gaan agterkom dat goeie dinge gebeur elke keer wat jy ‘n taak voltooi, dus sal ek jou aanraai om deur te druk. Hierdie boek gaan dinge laat gebeur. 

Vandag se taak: Gaan daarop uit om iets goed vir iemand te doen. Wees pertinent op die uitkyk daarvoor.Jy sal weet wanneer jy dit sien. 

p.s. Onthou om jou plant water te gee.

Soekie spring van haar bed af op. Boek in die hande is sy spoedig oppad kombuis toe. Sy vryf die boek onder haar ma se neus. “Dit was die boek. Ek sê ma, dit was hierdie boek.” Sandra sien die swart boek in Soekie se hande. Sy vee haar hande aan die vadoek af. “Gee bietjie laat ek sien. Met watse snert is jy nou weer besig?” Sy maak die boek oop. Voorop is geen titel. Binne in is die blaaie almal leeg. “Soekie, is hierdie weer een van jou grappies? Hier is dan niks eers ingeskryf nie.” Soekie gryp die boek. Sy maak dit oop. Nee, alles is daarin geskryf. Elke taak vir nege dae. “Nee mamma, kyk, hierso. Dag twee en wat ek moet doen.” Sandra gaan staan met haar hande in haar sye. “Soeks, as jy besig is met snaakse goed sal ek aanraai dat jy dit onmiddelik los. Daar is niks! Ek sien niks daar geskryf nie.” Soekie klap die boek toe. “Ek gaan uit.” Sy swaai verwoed om en slaan die voordeur toe. Die boek lê op die etenstafel.

Die lentebriesie is koel teen die punte van haar ore. Se lig haar kappie van haar baadjie oor haar kop om die wind te keer. Hoe op aarde is dit moontlik dat haar ma niks kan sien wat daarin geskryf is nie? Sy sien dan elke liewe woord. OOrkant die pad staan ‘n ou tannie haar en dophou. “Joohoo! Hi jy!” Soekie kyk op. Roep iemand? “Joohoo! Hierdie kant!” Soekie waai. “Hallo tannie, praat tannie met my?” Sy stap nader. “Ag kinta, ek sukkel om hier oor die straat te kom. Die motors wil nie wag nie.” “Kan ek tannie help?” Soekie vat aan die tannie se arm. “Dankie liefie, dit is gaaf van jou.” Soekie trek die tannie se waentjie en stut haar met haar arm. Die motors raas en blaas hulletoeters, maar Soekie ignoreer dit. “Daarsy tannie.” Sy help die tannie tot op die sypaadjie. Die tannie haal ‘n klein beursie uit. “Nee, asseblief tannie. Ek kan dit nie aanvaar nie.” Die tannie sit die beursie terug. “Jy besef nie hoeveel jy my vandaggehelp het nie skat.” “Dit is net ‘n plesier tannie. Kan ek saam met tannie loop?” Die tannie wys na die woonstelblok waarby hulle staan. “Baie dankie, maar ek is tuis. Geniet jou dag.” “Tannie ook, baie dankie.” Soekie draai terug huistoe. Sy kyk om, om te sien of die tannie veilig is. Verbeel sy haar of is dit nou skielik ‘n jong dame wat die waentjie trek? Sy skud haar kop. Dit is hopeloos verregaande. Dit mag meskien wees, maar haar hart is warm.

“Mamma!” “Ek is in my kamer.” Soekie stap nader. “Ek is jammer mamma, ek was ombeskof.” Sandra glimlag. “Jy kan vanaand die skottelgoed was om op te maak.” “Hey!” Albei lag saam. Soekie gee haar saadjie water. Die res van die dag verloor sy haarself in die geheime boek.

Dag 3, Vergewe, Dag 4, Doen take sonder om gevra te word, Dag 5, Bederf iemand, Dag 6, Wees net jouself vandag, Dag 7, Vergeet van jou verlede. Die take vul Soekie se dae tot bo. Sandra kan nie verstaan waarom sy so sit en staar na die leë boek nie en as sy daaroor vra kry sy net ‘n kyk.

Dag 8 is weer ‘n heerlike sonskyn dag. Soekie draf kombuis toe om die saad water te gee. Dit het binne dae eenvoudig net gegroei. Die stammetjie is al lekker lank en ‘n knoppie vorm aan die bo-punt. Sandra stap in. “Het mamma gesien hoe mooi groei die plantjie?” Sandra kan haar oë nie glo nie. “Het jy dit dan nie net ‘n paar dae terug geplant nie?” “Jip, maar ek sê mos, dit is die boek.” Sy knipoog vir haar ma. “Ja ja. Ek hoor wat jy sê.” Sandra is binne ‘n paar dae van klas gee, permanent aangestel by die universiteit. Dag 8 se taak is om iets te doen wat jy nie geniet oor die algemeen nie. Soekie besluit om met Jana te gaan gesels vandag.

Jana sit op die stoep voor die klas. “Hallo.” Soekie gaan sit langs haar. “Hallo Soekie.” “Hoe gaan dit met jou?” Jana is verbaas oor die skielike gesprek. “Ag, seker maar ok.” Soekie sien iets is verkeerd. Jana kyk af. Sy skop met die agterkant van haar skoolskoene teen die stoep, haar skouers hang en sy sit op haar hande. “Wat makeer Jana?” Sy kyk steeds af. “My ouers gaan skei. My pa het ‘n flêrrie opgetel.” Die trane rol oor haar wange toe sy dit sê. Soekie haal ‘n sneusdoekie uit haar baadjiesak. “Ek is jammer om dit te hoor. Kan ek iets vir jou doen?” Sy gee die sneusdoekie aan. “Ek belowe dit is skoon.” Jana glimlag so deur die trane. Sy skud haar kop en vee haar neus af. “Hoekom kom doen jy nie vanmiddag by my huiswerk nie? Dan kan jy bietjie afpak. Ek belowe dit sal tussen ons bly. Jana begin hard huil. “Ek het dit so nodig.”

Sien jy? Die lewe loop ‘n snaakse pad met ‘n mens. Vyande word vriende en vriende word vyande. Vreemdelinge word familie en andersom. Die manier hoe jy reageer op ‘n situasie sal bepaal of jy gaan oorleef of nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s