Geroep uit die veld – Deel 2

Soos oudergewoonte is Dawid vroeg op en gereed vir die dag. Isai en Dawid sit langs die ontbytvuurtjie. Dawid se ma het vroër opgestaan om ‘n stewige ontbyt te maak. Die ander sewe broers slaap steeds. “Wanneer gaan hierdie seuns leer om vroeg op te staan?” Vra Isai terwyl hy in die kole krap met ‘n stok. “Jy ken jou seuns my man. Hulle bly laatnag wakker en staan eers op wanneer die son hoog sit.” Dawid se ma bak ‘n paar duifeiers op ‘n plat metaal plaat. “Ek weet, maar hulle is nou manne. Hulle moet binnekort vrou vat en so gelaatslapery gaan gladnie goed afgaan nie. Ek gaan hulle wakker maak.” Isai staan op, vat ‘n skottel en stap die seuns se tentkamer binne. Hy slaan op sy hardste! Al sewe spring verskrik op, gryp na hul swaarde en staan gereed vir aksie! “Toe toe julle luiaards. Tyd dat julle begin vroër opstaan. Waarom kan julle nie so bietjie meer soos Dawid wees nie?” Hulle laat sak hul wapens. “Ag pa,” sug Abinàdab. “Dawid dit, Dawid dat. Dalk sal hy ook moeg word as hy soos ons moet gaan jag en kamele vang.” Isai skud sy kop. “Julle het vergeet van die beer wat hy net verlede week oorrompel het, en wat van die feit dat daar nog nooit een van die skape weggeraak het nie. Julle kan by hom leer.” Dawid kom ingestap. Hy moet sy leersak en slingervel kry. “Pa, asseblief. My broers doen meer as hul deel. Ek kan eerder by hulle leer.” Met die woorde gelaat stap Dawid uit. Hy jaag die skape bymekaar en kies koers veld toe.

Isai stap na Dawid se ma. “Hoe het ons hom soveel anders as die ander grootgemaak? Hy is nederig en doen net wat van hom verwag word. Hy bied altyd aan om in en om die tent te help. Hy is ons beste seun.” Dawid se ma skud ‘n oorrok uit. “Jy weet Isai. Dawid se liefde vir ons God van Abraham, Isak en Jakob is veel groter as enige ander een wat ons ken. Ons het hom nie grootgemaak nie. God het.” Sy vou die oorrok op en plaas dit op ‘n strooi baal. “Is seker so. Is seker so.” Isai kyk Dawid agterna. Sy kleinste dog sterkste seun.

Dawid kry ‘n groen veld naby die berg. Hy gaan sit sy leersak en slingervel by die ingang van die grot neer. Sy harp dra hy altyd oor sy skouer. Naby sy hart. Die skape sprei uit oor die veld. Sommige gaan lê ander vreet. Daar is ‘n vars bries wat waai. Dawid haal sy harp van sy skouer af en maak homself gemaklik by die grot. Dit is koud binne die grot. Hy bou ‘n vuurtjie. Die somerson sal later die grot warmer maak. Dawid begin weer sy dag by die voete van sy God. Hy sing aanbiddingsliedere, lofliedere, danksegging. Hy is gelukkig en tevrede met die lewe waarmee hy geseën is. Die strelende klanke van die harp maak die skape ook rustig. Hulle luister na Dawid se stem. Dit bring kalmte. Salig onbewus van die bergleeu wat oor die koppie vir hul loer gaan Dawid rustig voort.

Die noordewind begin waai. Die reuk van die skape waai reguit in die leeu se rigting. Sy is honger. Haar welpies ook. Haar maag grom. Tyd om te jag. Die leeuwyfie kruip stadigaan nader. Die skape ruik haar nie. Sy beweeg  teen die wind met die skape reg in haar visier. Stadig aan af teen die koppie. Skuil agter die klip en dan daardie klip. Dawid het aan die slaap geraak. Hy kan die leeuwyfie nie sien nie. Sy bekruip die vetste en naaste skaap aan haar. Dan val sy aan! Die skaap gee een blêr. Benoudheid verwar die trop. Al die skape skarrel heen en weer. Dawid skrik meteens wakker! Hy sien die leeuwyfie die skaap teen die koppie optrek. Die skaap probeer wegkom, maar tevergeefs. Dawid gryp sy getroue staf en sit die leeu agterna.

“My God! My God! Een van my skape is gevang. U het my gehelp om die beer te verslaan. U kan my help om die leeu te verslaan.” Dawid hardloop op sy vinnigste teen die koppie op. Die leeu raak moeg van die skaap wat onophoudelik spartel en blêr. Sy sien Dawid raak. Sy los die skaap en verander van rigting. Sy pyl op Dawid af! Dawid koes agter ‘n klip in toe sy hom bespring. Hy gaan staan met sy rug teen die rots daar naby. Hy kyk boontoe, geen leeu, links, regs, geen leeu. Sy hart klop in sy keel. Sy handpalms sweet. Hy hoor die benoude vrees van die skaap in die agtergrond. Dan spring die leeu bo-oor hom. Sy dryf Dawid in ‘n hoek in. Haar bek is tartend oop. Sy brul en wys haar tande. Dawid hou sy staf voor hom uit as ‘n waarskuwing aan haar. As sy naderkom sal hy haar oor die kop tref net soos met die beer. Die leeu val hom aan. Dawid laat val sy staf. Haar kake is om sy bobeen geklem. Dawid gil van die pyn. Haar tande sny in sy vlees in. Die warm bloed loop teen sy been af. “Here, gee my die krag!” Roep Dawid uit. Hy gryp haar kop vas. Sit een hand oor haar neus en een onder haar kaak. Hy rek haar kakebeen oop sodat hy sy been kan uitkry. Die leeu kan nie ontsnap uit Dawid se greep nie. Dan verskeur hy haar kakebeen en slaan haar dood met sy staf. Dawid se hart klop wild. Die adrenalien pomp deur sy are. Hy sak neer op die grond. “Jehovah Nisi! U het veereens bewys dat U getrou is. Dankie ABBA!” Dawid verbind sy been, neem die karkas van die leeu, die beseerde skaap ook onder sy arm en kies koers huistoe.

Isai en Dawid se broers vergader voor die tent. Dawid se ma trek water uit die put. Abinàdab het die vergadering geroep. “Ek verstaan Saul en sy leër het die Filistyne se wagpos verslaan. Hulle het nou oorlog teen ons verklaar. Ons wil gaan pa. Daar was ‘n boodskapper van Koning Saul vandag hier. Hy sê alle mans word opgeroep om Saul te volg na Gilgal.” Abinàdab het nog altyd sy oog op die leër gehad. Van kleins af het hy begin oefen om te veg. Hy is sterk gebou. Lank en aantreklik. “Ek weet nie seun. Ek verstaan die Filistyne beskik oor ‘n veel groter leër as ons.  Daar is drie duisend strydwaens en ses duisend perderuiters so baie voetgangers soos die sand wat op die seestrand is. Nie eers te praat van die reuse aan hulle kant nie.” Samma spring op. “Waar Abinàdab gaan, gaan ek. Ons het ook ‘n reus… Hier is hy reg voor my!” Samma wys na Abinàdab. “Daar is baie reuse, baie groter as jou broer, Samma. Die Filistyne het vir Goliat. Wie sal teen hóm opstaan? Selfs Saul sal die pad vat!” Isai vererg hom. “Plaas hou julle, julleself by ons eie sake. Laat Saul self gaan veg. My seuns bly hier en ek het klaar gepraat!”

Dawid gaan staan stil by sy broers en pa. Niemand het hom gehoor of gesien aankom nie. “Dawid!” Sy ma laat val die emmer water en hardloop na hom toe. “Wat het met jou gebeur?” Sy is geskok om die wond aan haar kind se been te sien. Die lap wat hy van sy kleed afgeskeur het om dit te verbind is deurdrenk van die bloed. “Ek is lewendig ma. Hierdie leeu het een van my skape probeer kry, toe kry ek haar. Nog ‘n mat vir ma.” Hy glimlag tevrede. “Laat hulle gaan veg as hulle wil pa. Ons God sal hulle beskerm soos wat Hy my ook vandag beskerm het.” Isai gaap Die leeukarkas aan. “Hoe het jy daardie bek so geskeur?!” Dawid haal sy skouers op. “Met my God storm ek ‘n bende en spring ek oor ‘n muur.” Dan stap hy na sy ma toe sodat sy die wond kan versorg.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s