Geroep uit die veld – Deel 6

Dawid het nadat hy gesalf is as dienskneg van Saul begin werk. Saul is verskrik deur ‘n bose gees en Dawid is geroep om op sy siter vir Saul te gaan speel wanneer die gees hom weer sou oorneem, om hom te kalmeer.

Die Filistyne het hulle leër bymekaar geroep en by Sogo laer opgeslaan tussen Sogo en Aséka in Efes-Dammim. Saul het die manne van Israel bymekaar geroep om hulle leër te vorm. Die Filistyne en Israeliete het oorkant mekaar gestaan met die dal tussen hulle. Daar is stilte. Nie eers die wind maak ‘n roering nie. Die voëls van die lug het gevlug. Toe kom die grootste vegter van die Filistyne uitgestap. “Sy naam is Goliat.” Fluister Elíab vir Samma. “Hy is te groot vir ons. Hoe kan ons hom verslaan?” Goliat was ses el en ‘n span lank. Hy het ‘n koperhelm op sy kop, ‘n pantser van skubbe, skeenplate van koper en ‘n koperlans tussen sy skouers. Sy spies was nog langer as hy en die gewig van die lem van sy spies was soveel soos seshonderd sikkels yster. Dan roep hy uit oor die leër van Israel. Sy stem brul oor die dal tot in die binneste van elke man. “Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle’n man uit, dat hy na my toe afkom.  As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien. Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my ‘n man, dat ons saam kan veg.” Die sweetdruppels van vrees druk uit oor Abinádab se voorkop. Hy dink aan sy pa Isai, en sy ma wat almal so getrou bedien. Hy is nie seker of hy lewend van hierdie slagveld af sal kom nie. “Manne. Ons moet sterk staan. Haak jul skilde bymekaar in. Die Here gaan ons vooruit!” Samma se woorde weergalm oor die dal.

Goliat het vir veertig dae so voor die Israeliete gaan staan en roep. Hy het hulle gekoggel. Hulle God gespot, maar hulle voete was gevries in vrees. Dawid het tussen sy pa se tent en die paleis afgelos. Hy het nie van die veë vergeet nie. Hy het steeds sy werk voltooi terwyl hy indiens was van die Koning.

Dawid en Isai sit by die ontbytvuur wat sy ma gemaak het. “Seun, ek wil nie hê jy moet vandag ingaan veld toe nie. Ons het lanklaas nuus gehad van jou broers. Neem asseblief vir hulle ‘n efa van hierdie koring en tien brode. Ek gee ook vir jou tien snye kaas. Dit moet jy na die owerste oor duisend vat. Vra dan vir jou broers hoe dit met hulle gaan en as dit goed gaan, bring vir my ‘n pand van een van hulle saam.” Isai krap in die vuur met ‘n stok. “Dit is goedso pa.” Na ontbyt pak Dawid sy donkie en neem die tog na die slagveld.

Dit was ‘n lang en warm dag. Toe hy by die slagveld aankom vra hy onmiddelik na sy broers. Een van die krygsmanne wys na hul tent eenkant. Hulle groet hom en is bly om hom te sien. Dawid vra hoe dit gaan en gee vir hulle die goedere. “Pa en ma stuur hulle seën.” Abinádam neem die goedere by Dawid. “Baie dankie broer. Gee vir pa my pand, dan sal hy weet dit gaan nog goed met ons.” Terwyl Dawid daar staan en met sy broers gesels, hoor hy hoe Goliat uitroep oor die Israeliete. Dawid kyk op en draai in Goliat se rigting. “Nou toe nou. Wie is hierdie onbesnede Filistyn dat hy die slagordes van ons lewende God uitdaag?” Samma gaan staan langs hom. Dit is Goliat. Die Filistyne se geheime wapen. Hy roep al so vir die laaste veertig dae.” Dawid skud sy kop. Ek moet na Saul toe gaan.

Dawid staan voor Saul se tent. Saul het nognie weer ‘n uitbarsting gehad nie. Hy stap in. “U majesteit.” Dawid buig laag. “Dawid! Kom gerus binne.” Dawid staan op en stap tot voor Saul. “Ek sien daar is ‘n man wat ons God koggel en ons volk uitlag.” Saul knik. “Daar is nie een man in ons leër wat bereid is om teen hom te veg nie.” Dawid slaan sy regterhand skuins oor sy bors. “Ek sal gaan. Sê vir die manne hulle moed moet tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan.” Saul skud sy kop. “Jy kan beslis nie gaan nie. Jy is maar nog ‘n seun.” Dawid staan nader aan Saul.  “As die leeu of die beer kom en my vee wegdra gaan ek agter hom aan en verslind hom. Dieselfde God wie my van die leeu en die beer beskerm het sal my van hierdie reus beskerm.”Saul is verstom, maar stem in. Nie eens hy was bereid om te gaan nie.

Saul se diensknegte trek vir Dawid die koning se helm en pantser aan, maar dit is te swaar vir hom. Dawid trek dit uit. “Ek kan nie hiermee gaan nie. Ek gaan nes ek is.” Met daardie laaste woorde stap Dawid uit Saul se tent. Hy stap na ‘n nabye rivier en tel vyf klippe op. Hy bêre dit in sy leersak. Met sy staf in sy linkerhand en sy slingervel in sy regterhand stap hy tot reg voor Goliat.

Goliat kyk na Dawid. Hy lag hom uit. Goliat wys na Dawid. “Is ek ‘n hond dat jy met stokke na my toe kom? Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee.” Dawid glimlag. ” Jy kom na my met ‘n swaard en met ‘n spies en met ‘n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het.  Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel ‘n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.” Goliat lag uit sy maag, hy stap nader aan Dawid. Hy lig sy spies om Dawid te vermorsel. Dawid haal ‘n enkele klip uit sy sak en sit dit in sy slingervel. Hy neem ‘n oefenswaai. Dan swaai hy sy slingervel drie-maal en laat los. Die klip tref die reus in die middel van sy voorhoof. Die slag is so kragtig dat die klip die reus se voorkop penetreer tot by sy brein. Hy val met een slag vooroor op sy gesig. Dawid hardloop nader. Hy trek Goliat se swaard en onthoof hom. Goliat se kop rol eenkant. Dawid stap nader. Hy vat die hare van die reus se hoof beet en lig die kop omhoog. Hy roep ‘n kreet uit oor die hele Israel sodat die Filistyne dit ook kan hoor.

“Vandag het die Here die Filistyne in ons hande oorgegee. Gaan en maak hulle land ons sin!” Met hierdie woorde het elke Israeliese man agter die Filistyne aangehardloop en die land van Gat hul eie gemaak.

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s