Die verfkwas – Deel 4

Die reën raas op die dak van die taxi. Lydia se motor se wiel is pap. Sy moes ‘n taxi bel om haar na die hotel te neem. Die bestuurder loer in die tru-spieël na haar. “Ons is hier mevrou.” Lydia word teruggeruk uit haar dagdroom. “Verskoon my?” “Ons is by die hotel mevrou.” Lydia staar na die ingang wat ongeveer tien treë vanaf die taxi is. “Wou mevrou nog ‘n draai gemaak het iewers?” Die bestuurder kan nie verstaan waarom sy so talm nie. Lydia kyk na hom. “Ek is nie mevrou nie.” “E…Ek…” Die bestuurder probeer nog verskoning maak, maar Lydia is klaar by die deur uit. Haar betaling op die agtersitplek. Hy skud sy kop. “Aktrises…” 

Lydia plons op die bed van haar hotelkamer neer. Haar pakkies in die hoek eenkant gegooi. Sy het gedink die inkopies sou help, maar sy gaan oor en oor en oor elke moontlike gesprek wat sy al ooit met Pieter gehad het. Sy kan geen tekens vind wat daarop sou dui dat hy ‘n verhouding met ‘n ander vrou sou hê nie. Hy was nog altyd net ‘n een vrou man. Sy voel ‘n spanningshoofpyn aankom en raak dan weg in ‘n diep diep slaap. 

Lydia hardloop met haar vuurrooi hakskoene op die sypaadjie. Dit reën erger as vanmiddag. Sy kyk agter haar. Die mense stroom by die teater uit. Almal opsoek na haar. Almal soek ‘n stukkie van haar. Almal soek ‘n foto of handtekening. Iets wat hul kan gebruik om hul eie ego te streel. Iets wat kan sê ek het ‘n stukkie droom gekry. Haar hakskoene klap hard teen die sement van die paadjie. Sy hardloop by die hotel in. Die maanlig verlig die ingang. Die skare is steeds agter haar. Sy hoor hoe hulle nader kom met elke tree wat sy gee. Skielik kan sy nie verder hardloop nie. Haar bene beweeg, maar dit voel so swaar soos lood. Asof iemand gewigte aan haar enkels vasgebind het. Sy kyk af. Probeer wegkom. Dit is Pieter se hande om haar enkels gesluit. “Los my!” Pieter kyk op. “Ek sal jou nooit laat gaan nie. Ek het jou gekoop.” Lydia probeer ontsnap. Sy val. Die skare kom in die gang af aangehardloop. Sy kry nie asem nie! Hulle oorval haar!

Lydia skrik wakker uit die vreesaanjaende droom. Sy stik en snak na haar asem. Sweet blonk soos kristalle op haar voorkop. Sy sit regop en kyk na die muurhorlosie. Half elf in die nag. Daar is vyf boodskappe op die antwoordmasjien van Pieter af. Hy wil gesels. Dinge verduidelik. Dink hy werklik hy kan sy aksies regverdig. Ja, sy weet ‘n man is nie ‘n klip nie, maar sy gaan nie haar eer op hom mors nie. Fie gordyne waai hoog en die reën val hard op die balkon. Lydia sukkel om die deur toe te kry. Daar is ‘n klop aan die deur. Wie sal hierdie tyd van die nag pla? “Wie’s daar?” “Dit is ek. Pieter.” “Gaan huistoe. Ek het niks vir jou te sê nie.” “Asseblief Lydia. Laat ek verduidelik.” Lydia pluk die deur oop en swaai haar vuis in sy rigting. Pieter keer dit af en kry ‘n houvas op haar met sy hande weerskante van haar gesig. Hy soen haar vurig. Die sterkste, passievolste soen wat hy haar al ooit gegee het. Hy ken haar swakplek. “Kan ons praat?” Sy stem is skor. Lydia staar hom net woordeloos aan. 

Pieter lei haar aan die hand tot op die rusbank. “Ek is besig met ‘n projek. Sandra is ‘n kunstenaar wat saam met my daaraan werk.” Lydia val hom in die rede. “Maar julle kom so laat bymekaar, en wat van die boodskap? Hoekom gaan julle na haar plek toe? Dit klink alles net te verdag vir my.” Pieter skud sy kop. Hy bal sy vuiste. “Kan jy my net vertrou? Het ek jou al ooit rede gegee om my nie te vertrou nie?” Sy skud haar kop en vroetel met haar hande in haar skoot. Pieter neem haar hande in syne. “Asseblief. Vertrou my net. Hierdie projek is vir my baie belangrik.” Lydia stem in. Pieter soen haar weer. Sy maak ‘n begeerte in hom wakker wat hy sukkel om te tem. Sy trek hom nader, maar hy stop. “Ek sal jou môre sien.” Pieter maak die kamerdeur agter hom toe. Lydia word steeds gelaat met baie vrae, maar sy sal hom vertrou. 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s