Die verfkwas – Deel 5

Jy kan nie vrede vind deur die lewe te vermy nie. – Virginia Wolf 

Lydia sit op die balkon van haar hotelkamer. Die koffie stomend in die beker voor haar op die tafel. Die son se skamele oggend strale sorg vir ‘n goue randjie oor die stad se geboue voir die horison. Sy sit haar pen neer en sit terug om haar brief te lees. 

Geagte Pieter,

Hiermee gee ek my dertig dae kennis. Graag wil ek u hartlik bedank dat ek in diens van u kon wees vir die afgelope vyftien jaar. Dit was ‘n wonderlike leerskool met talle uitdagings en ook goeie herinneringe. Ek voel die tyd het vir my aangebreek om my horisonne te verbreed en terug te keer na my kuns eerder as my werk as aktrise. Baie dankie vir u goeie ondersteuning en leiding in die afgelope vyftien jaar. 

Groete,

Lydia

Lydia sit die brief neer op die tafel langs die koffie. Vandag is haar verjaardag. Niemand het ooit werklik moeite gedoen met haar verjaardag nie, terwyl sy altyd ‘n ophef van ander se spesiale dae gemaak het. Vandag beloof nie om veel anders te wees nie. 

Pieter is vroeg op. Vandag is die dag. Hy gaan Lydia verras op haar verjaardag met die heel mooiste geskenk. Sy sal nooit kan nee sê daarvoor nie. Hy trek sy splinternuwe snyerspak aan en trek sy das netjies. Hy sluk die laaste koffie uit die beker en is haastig by die deur uit. 

Sandra vryf die houtboksie vir oulaas blink en behandel dit met olie. Sy neem die soliede goue kwas versigtig uit die fluweel boksie en plaas dit op die staandertjies binne in die houtboksie. Sy vryf die hare van die kwas gelyk en vee ‘n dowwe kolletjie van die steel af waar sy dit vasgehou het tussen haar vingers. 

Lydia pak die laaste paar kledingstukke in haar koffers. Pieter het gevra dat sy hom sal ontmoet vir ontbyt by hul gewone plek. Die ideale kans vir haar om haar bedankingsbrief in te handig en dinge finaal met hom tot ‘n einde te bring. Dot was ‘n lang nag en sy het baie tyd gehad om te dink. 

Pieter trek sy pak reg waar hy voor Sandra se deur staan. Sy maak die deur oop. Haar hare is deurmekaar en daar is ‘n paar penne in haar hare gedraai om die bymekaar te hou. Sy hou die boksie in albei hande na hom toe uit. “Baie dankie.” “Kyk binne man. Moenie dankie sê voordat jy dit nie gesien het nie.” Pieter maak die boksie oop. Binne in lê die verfkwas. Blinkgepoets en aanloklik vir die oog. “So?” “Dit is asemrowend. Perfek. Net soos Lydia.” “Wel, ek hoop hierdie werk om jou uit die hondehok te kry.” “Toemaar, na vandag sal sy alles verstaan.” Pieter spring in sy sportmotor wat brul toe hy dit aanskakel. 

Lydia is vroeg by die restaurant. Sy het solank twee koffies bestel. Sy verwag Pieter enige oomblik.

Pieter stop in die parkeerarea. Hy kyk in die tru-spieël en trek sy hare reg. Daar is sweetdruppels oor sy voorkop van senuagtigheid. Lydia sal hierdie nooit verwag nie. 

Pieter stoot die deur van die restaurant wyd oop en stap met ‘n majestieuse bos rooi rose en die hout boksie in. Lydia sien hom dadelik raak. Haar moed wil in haar skoene sak met die aanskoue van sy netjiese breë skouers en verleidelike glimlag. Hy soengroet haar en gaan sit oorkant haar aan die tafel. “Hierdie is vir jou.” Hy handig die rose oor aan haar. “Baie geluk met jou verjaardag.” “Baie dankie.” Sy sit die blomme langs haar neer op die sitplek. Dan oorhandig sy die brief. “Wat is dit?” “Lees maar.” Haar stem is hees en vol emosie. Pieter lees die brief aandagtig. Sy kan aan sy gesigsuitdrukking sien hy is nie gelukkig nie. “Pieter, ek is jammer.” Sy kyk af. Vroetel met die lint om die bos blomme. Pieter kyk op vanaf die brief. “Baie dankie. En ek stem saam. Fit is verseker tyd om jou horison te verbreed, maar daar is een vereiste wat ek aan jou gaan stel voordat ek instem tot jou bedanking as aktrise. Lydia kyk verbaas na hom. “Wat is dit?” Hy gee die boksie oor die tafel aan. Lydia vee met haar vingers oor die uitgekerfde kunsdeel. “Dit is pragtig.” Dan maak sy dit oop. Reg in die middel van die handvatsel van die kwas is daar ‘n fyn ring met ‘n skitterende diamant. Lydia hou haar hand voor haar mond soos sy snak na haar asem. Pieter wou nooit trou nie. Nou die ring? Sy kyk op. Pieter is weg. Dan kyk sy langs haar op die vloer. Pieter staan op sy een knie. “Lydia, sal jy asseblief jou horisonne verbreed saam met my as mevrou Pieter?” Lydia begin huil. Altyd het sy gesoek na die een wat haar hartsbegeerte sou aanhoor. “Ek sal. My hart het die een gevind waarvoor sy lief is.”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s