Tien strawwe – Deel 1

Moses kyk uit oor die vlakte na sy skoonpa Jetro, die priester van Mídian, se tent. Hy kan onthou hoe hy hier aangekom het by die put en sy ,toe vreemdeling, vrou aan hom water gegee het. Sy was vir hom beeldskoon. Die mooiste vrou in die hele land. Haar blas vel, see blou oë en lang donker lokke het sy knieë lamgemaak. Dit doen steeds. En wanneer sy lofliedere sing tot eer van hul God en dans op die maat van die musiek wil hy saamdans. Tot in ewigheid saam met haar.

Hy is vandag by die berg van God, Horeb. Hier is goeie gras vir die kleinvee. Skielik trek ‘n flikkerlig sy aandag. Neffens hom het ‘n doringbos aan die brand geslaan, maar die bos brand nie uit nie en word ook nie beskadig deur hierdie verterende vuur nie. Moses stap nader aan die bos. Hy wil weet waarom hierdie bos nie uitbrand nie. Skielik hoor hy ‘n duidelike stem vanuit die bos.

“Moses! Moses!” Moses is skrikkerig, maar sy nuuskierigheid motiveer hom om selfs nog nader te gaan. Die stem roep hom hard en duidelik. “Moses! Moses!” “Hier is ek.” “Moenie nog kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan is, heilige grond. Ek is die God van jou vader. Die God van Abraham. Die God van Isak en die God van Jakob.” Moses trek eensklaps sy skoene uit en val op sy gesig neer. Hy verberg sy gesig, want hy is bang om God aan te sien. Die stem kom weer vanuit die knetterende bos. “Ek het die ellende van my volk in Egipte gesien. Ek ken hulle smarte. Daarom wil ek hulle uit die hand van die Egiptenaars verlos. Ek sal hulle lei na ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Ek stuur jou na Egipte sodat jy my volk, die kinders van Israel, uit Egipte kan lei.” Moses sidder by die gedagte. Die laaste maal toe hy in Egipte was het hy een van die slawedrywers doodgeslaan. “Wie is ek, dat ek na Farao sou gaan en dat ek die kinders van Israel uit Egipte sou lei?” ” Ek sal met jou wees, en dit sal vir jou ‘n teken wees dat Ek jou gestuur het: As jy die volk uit Egipte gelei het, sal julle op hierdie berg God dien.” “En as ek by U volk kom en hulle vra my wat is U naam?” Die wind tel op teen die berg en die vuur brand helderder. Moses bly gebukkend met sy gesig verberg. “Ek is wat Ek is. Sê vir hulle Ek is het jou na hulle gestuur. Die God van Abraham, Die God van Isak en die God van Jakob het my na julle gestuur. Gaan heen en versamel die oudstes van Israel en sê vir hulle: Die HERE, die God van julle vaders, het aan my verskyn, die God van Abraham, Isak en Jakob, en het gesê: Ek het terdeë ag gegee op julle en op wat julle in Egipte aangedoen is. Dan moet jy en die oudstes na die koning van Egipte gaan en hom vra om die volk drie dae buite die stad te laat trek sodat julle aan julle God kan offer. Hy sal hulle nie laat gaan nie, maar Ek sal Egipte teister met al my wonders en tekens.” Moses is bang vir dit wat God van hom verwag. Hy weet nie hoe om te reageer op hierdie groot onbekende taak nie. “Wat as hulle my nie glo nie?” “Gooi jou staf op die grond.” Moses maak soos Ek is hom beveel. Hy gooi sy staf op die grond en dit word ‘n slang. Hy skrik en hardloop agter ‘n rots in om weg te kruip.  “Gryp dit nou aan die stert.” Moses is steeds huiwerig, maar hy gehoorsaam. Toe hy die slang aan die stert gryp word dit weer ‘n staf. “Steek nou jou hand in jou boesem.” Weer gehoorsaam Moses. Toe hy sy hand uit trek uit sy boesem is dit melaats. Hy skrik weer, maar die keer kan hy nie weghardloop nie. “Steek nou weer jou hand in.” Moses weet hy kan Ek is vertrou. Hy doen dit weer en toe hy sy hand uit trek is sy hand weer genees. Moses was altyd ‘n man van min woorde omdat hy nog altyd gesukkel het om te praat. “Here, ek is nie ‘n man van woorde nie.” “Ek sal by jou wees en jou leer wat om te praat.” “Asseblief Here, stuur iemand anders.” Skielik is daar ‘n gedruis van klank en die aarde bewe onder Moses se voete. “Jou broer Aäron, die Leviet , is nog in Egipte. Hy sal saam met jou gaan. Jy moet vir hom sê wat ek aan jou sê, dan sal hy praat.” Moses neem die staf wat hy eenkant laat staan het weer in sy hande. Hiermee sal hy die wonders en tekens van God aan die volk en die koning van Egipte wys.

Dit is nog te vroeg om terug te gaan na die tent toe, maar Moses moet met sy skoonpa praat oor wat pas gebeur het. Dan gee hy die eerste tree na die Vryheid van die kinders van Israel.
 

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s