Tien strawwe – Deel 2

Moses en Aäron word by Farao se troonkamer ingelei. Die hoë pilare en hirogliewe mure is steeds baie bekend aan Moses. Die reuk van wierook en geofferde vleis hang swaar in die paleis en bring vele herinneringe aan Moses terug. Hy kom tot stilstand voor Farao. “Moses. My lang verlore broer van Egipte. Waaraan het ek hierdie eer te danke?” Farao se stem is spottend. Moses tree vorentoe. Gevul met die krag van God. Aäron staan selfversekerd langs hom. “Farao. So spreek die Here. Laat my volk trek dat hulle vir my ‘n fees kan hou in die Woestyn.” Farao sit regop op sy goue troon. Sy hooftooisel en egte goue nekbehangsel versier sy liggaam. “Wie is hierdie Here na wie se stem ek moet luister? Ek ken Hom nie en ek sal ook nie Israel laat trek nie.” Moses kap sag met sy staf op die marmervloer van die paleis. “Die God van die Hebreërs het ons ontmoet. Laat ons drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die Here ons God offer, sodat Hy ons nie tref met die pes of die swaard nie.” “Moses en Aäron, julle hou die volk uit hulle werk uit. Loop na julle werk toe! Die volk is alreeds so baie en nou wil julle nog hulle uit hul werk hou?”  Moses en Aäron draai stadig om en gaan terug na die volk. Farao voel selfversekerd dat hy die geveg oorwin het.

Later die dag roep Farao die hoof oor die slawedrywers nader. “Julle mag nou aan die volk geen meer strooi gee om bakstene te maak nie. Hulle kan dit self gaan haal. Die hoeveelheid bakstene wat hulle gister en eergister gemaak het moet hulle vandag ook maak. Hulle is lui. Hulle kan harder werk! En wanneer hulle klaar is roep julle hulle nader en sê: “Kom ons gaan offer aan onse God. Laat hulle hard werk, sodat hulle te moeg sal wees om leuens te glo.” Die slawe drywers het uitgegaan en die werk van Israel verdubbel. Die volk het gekruip onder die druk van die Farao. Die Egipte son was op sy warmste en het hul vel geskroei en gedroog.

Dit was ‘n lang dag in die Egipte son. Moses en Aäron sit saam met Miriam en die kinders aan tafel en eet. Daar is ‘n klop aan die deur. Miriam stap en maak die deur oop. Símeon stap in. Sy skouers is teruggetrek en sy gesig van woede opeen getrek. “Moses!” Hy stap vinnig nader aan Moses. Moses steier terug om ‘n hou af te weer. “Moses. Mag die Here julle oordeel. Julle het ons gehaat gemaak en nou moet ons drie maal harder werk sonder dat daar strooi aan ons gegee word, maar ons moet dieselfde bakstene lewer as die vorige kere. Hulle sê ons is lui!” Símeon is woedend. Sy asem blaas en sy hart klop vinnig. Sweet druppels slaan uit oor sy voorkop.

Na ete gaan Moses na sy binnekamer. Sy hart is swaar en hy verstaan nie waarom dit gebeur het nie. “Here. Waarom? Waarom het U my dan gestuur as die Farao so maak met die volk? Hy mishandel hulle en hy wil hulle nie laat trek nie.” Moses is bedroef en hy huil hard vir die volk by die Here. Dan hoor Moses weer die Here se stem. Sag en kalmerend. “Moses, jy sal nou sien wat ek Farao gaan aandoen. Deur ‘n sterke hand sal hy gedwing word om hulle uit sy land te dryf. Ek het ‘n verbond gemaak met Abraham, Isak en Jakob. Ek het die gekerm van Israel gehoor en ek sal hulle verlos.” Moses het die woorde aan die volk oorgedra, maar hulle wou nie luister nie. Hulle was moeg gewerk en ongeduldig. God het weer met Moses gepraat en gesê: “Gaan na Farao en sê hy moet my volk laat trek.”

Moses en Aäron staan weereens voor Farao. “Farao, laat my volk gaan.” Aäron sê elke woord wat Moses aan hom sê om te spreek. Hy is vol selfvertroue dat die Farao vandag sal luister. Farao skuif rond op sy troon. Sy borsplaat weerkaats in die son. “Doen eers vir my ‘n wonderteken vir julleself. Dan sal ek hulle laat gaan.” Aäron neem sy staf in sy hand en gooi dit neer voor Farao op die marmervloere. Meteens word die staf ‘n slang en pik in Farao se rigting. Aäron gryp die slang aan die stert en dit word weer ‘n staf. Farao wink sy deurwag nader. “Gaan haal ons paleis se towenaars.” ‘n Ruk later kom die towenaars ingestap. Vreeslik vermaaklik swaai hulle hul wierook en towerserpe rond. Farao roep hulle tot voor hom. “Wys vir my hoe maak hierdie manne daardie staf in ‘n slang.” Die towenaars neem hulle eie stawwe ook op. Gooi dit neer op die marmervloere en dit verander ook in twee slange wat pik na Moses en Aäron. Farao staan op van sy troon en stap tergend om Moses en  Aäron. “Nou toe nou. Julle sal maar weer moet probeer. Die volk sal nie trek nie.”

 

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s