Die liefde wen – Deel 1

Clara spoel haar gesig met yswater af. Sy reik uit vir die wolsagte handoek teen die muur. Dit ruik na babapoeier. Sy hou dit naby vir ‘n oomblik. Roep die herinnering van haar eie baba terug in haar gedagtes. 

“Clara. Kom asseblief uit die badkamer.” Nico is by die deur. Sy stem is benoud. “Clara, antwoord my net.” Sy bly stil. Druk haar gesig dieper in die handoek. Sy wil nooit hê die reuk moet weggaan nie. Haar eie klein Clara. Haar doodsbleek gesiggie in die klein kis spook by haar. Wanneer sy slaap droom sy van haar in haar arms. Gesond. Sy glimlag vir haar. Dan begin sy onophoudelik huil en ineenkrimp. Die gehuil weerklink in Clara se ore. Die reuk van babapoeier verander na ‘n doodsreuk. Dan lê haar bondel vreugde leweloos en stil in haar arms. 

Dit is die stilte wat haar wakker gemaak het. 

“Clara.” Sy kyk op in die spieël. Haar voorarms brand. Daar is snymerke aan haar polse. Sy onthou hoe Nico haar in die hospitaal wakker gebid het. Hoe kan hy steeds glo in God? Sou ‘n God van liefde haar baba so weggeruk het? Hoe kon Hy dit toelaat? Al wat Nico doen is bid. 

Tevergeefs. 

Clara is nou ses voet onder die grond. 

“Clara.” ‘n Ander stem. Sag. Vol liefde. By haar in die badkamer. Sy hou die handoek oor haar mond om die naarheid te keer. Skuins agter haar sien sy die weerkaatsing van ‘n man in die spieël. Sy word yskoud en storm uit die badkamer. “Nico!”

Stilte. 

“Nico!” Hy antwoord nie. Die huis is donker. Slegs haar bedlampie is aan. Die kamer ruik na laventel. Teen die kas hang haar wit nagrok wat sy met die geboorte aangehad het. Clara loer na die badkamer. Die lig is aan, maar daar is niemand. Sy gaan sit op die rand van hul bed aan Nico se kant. Op sy bedkassie is ‘n nota. 

“My liefste Nico,

Clara se dood het my te hard getref. Met elke asemhaling kan ek voel hoe my hart fisies breek. Ek verlang na my kind. Vergewe my asseblief. 

Clara.”


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s