Die liefde wen – Deel 2


Clara leun terug teen die kopstuk van hul bed. Die nota teen haar bors. Net soos Clara se sagte koppie teen haar bors gerus het. Haar gunsteling plekkie om te lê. Haar hare so sag soos fluweel. Almal was verbaas oor haar baie hare met die geboorte. Ouma Sara het dit voorspel na aanleiding van die hewige sooibrand wat Clara gehad het. Vir ‘n oomblik kan sy haar klein Clara voel op haar bors lê. 

Nico is in die kombuis besig. Clara is nou ‘n paar dae nie haarself nie. Van daardie skriknag toe hy haar op die badkamervloer gekry het is hy ekstra versigtig wanneer sy so optree. Hierdie keer is tog anders. Hierdie keer is sy fisies siek. Hy staan ‘n oomblik stil en dink aan die nota langs sy bed. Hy het dit gehou as herinnering dat die Here haar lewe gespaar het. Vanuit die kombuis lyk die vertrekke op die boonste verdieping steeds donker. Is Clara al uit die badkamer? Is sy in die huis? Nico draf met die trappe na bo. 

Clara lê doodstil. Haar regterhand op haar bors, haar linker op haar maag. Dit lyk of sy slaap. Hy stap nader en gaan sit langs haar. “Clara,” Sy roer nie. “Clara, skat.” Sy maak haar oë stadig oop. “Nico,” “Hoe voel jy?” Sy lig die nota van haar bors af. “Aggenee, Clara, asseblief. Ons is ook nou al hoeveel maal hierdeur.” Clara sit regop. “Ek verlang na my kind.” Nico staan op. “Dit is nou al nege maande. Jy moet mos nou al beter voel.” Hy stap na die venster. Dit is donker buite. Te donker. “Nico, jy sal nooit die verlies verstaan nie.” Clara se stem breek sag. Hy draai na haar. “Sal ek nie? Dit was my kind ook! Elke dag wonder ek hoe haar stem sou klink. Watter kleur haar hare of oë sou wees. Ek verlang na haar reuk, na haar warm asem in my nek. Moenie vir my sê ek sal nie die verlies verstaan nie!” Clara storm op hom af. “Het jy haar vir nege maande binne jou gedra? Het jy haar gevoed? Het jy nagte om gesit met haar gehuil? Het jy haar lewelose liggaampie vasgehou?” Sy huil. Die pyn in haar bors dryf haar om te gaan sit. “Jy sal nie verstaan nie.” “Sy was netsoveel myne as joune Clara.” 

Clara kyk af. Vroetel met die sneusdoekie in haar hande. Sy het nie meer trane oor om te huil nie. 

Daardie nag slaap hulle vir die eerste maal apart. 

Die môreson begroet Clara se wimpers waar sy op Nico se plek aan die slaap geraak het. Haar keel is droog. Die huis is steeds stil. Sy staan op en trek haar swartsweetpakbroek met haar groen t-hemp aan. Vandag sou Clara se eerste verjaardag gewees het. 

Die trappe kraak soos Clara probeer afstap. Nico slaap op die bank. Hul worshond by sy voete ingewikkel. Die kos wat hy vir die vorige aand gekoop het is steeds op die kombuistafel. Sy skakel die ketel aan en haal twee groot bekers uit die kas. 

Nico staan by die ingang en kyk na haar. Sy het soveel gewig verloor na Clara se dood. Hy stap nader en omhels haar van agter. 

“Ek is jammer.” 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s