Dit raak beter as jy ouer raak.

“Dit raak beter as jy ouer raak,” So sing Francois van Coke. Die tema liedjie van ons vacay wat pas verby is. Waarder woorde ken ek nie as dit nie. Dinge raak werklik beter. Ons is pas terug van die beste gesinsvakansie in vier jaar. Vorige vakansies was net een groot job. Ek moes harder werk met vakansie as by die huis. Op die einde van die dag het ek en my man skaars in mekaar se rigting gekyk. Ek het hom vermy omdat hy vir my werk gemaak het deur op vakansie te gaan en hy het my vermy omdat hy gedink het hy doen ons ‘n guns en toe draai dit heeltemal anders uit… Nietemin. Dit was die vorige vakansies. Maar HIERDIE een. Hierdie een was ‘n wegbreek uit die boonste gestoeltes. ons het tuis gekom en is uitgerus. Daar was min na geen stresvolle dae op ons wegbreek en die kinders was engeltjies. Die eerste paar dae was hulle bietjie olik, maar daar is blykbaar niks wat so goed werk soos ‘n ou setpilletjie nie. Hulle het heeltemal vergeet hulle is siek na daardie een. Hehehe… (Evil laugh) Dit raak in alle eerlikheid beter!

Ons data was klaar en was ons ook net te bly toe ons so bietjie kon wegbreek van die konneksies. Dit was heerlik om so bietjie unplugged te wees. Ons het slegs een of twee maal aan restaurante se wifi gekonnekteer, maar dit het ons gou ook nie meer gepla nie. Bloot vir die rede dat indien daar iets belangriks gebeur sal die nodige persone ons bel. Ons het gaan vakansie hou om te rus en dit is presies wat ons gedoen het. Ons kindertjies is nou afsonderlik amper twee en vier jaar oud. Ons het die hele vakansie slegs na twee plekke gegaan. Jip. Net twee. Dit het ons gelos met agt volle dae wat ons slegs in die swembad of op die strand spandeer het. Glo dit of nie, ons was rebels en het selfs middagslapies geneem. Ons het selfs 80% van die tyd by die woonstel geëet. Ek sal dit sterk aanraai vir enigiemand wat met verlof gaan. Die afgelope maand of wat sukkel ek tot vervelens toe met skrywersblok. Alweer. Ek weet. Dit is maar hoe dit gaan. Ek het my skootrekenaar saamgepikkel in die hoop dat die ‘change of scenery’ die muse na my sal stuur, dit het in ‘n mate, maar ek sit weer met niks…

Intussen het ek eergister begin lees aan Marita van der VYver se ‘Griet kom weer.’ Ek hou van dit. Ek hou van haar taalgebruik. Nee, nie die twee of drie vloekwoorde tussenin nie, maar haar enorme woordeskat is iets om van te droom. Ek probeer elke moontlike mooi woord onthou. Daar is baie. Woorde en tale fasineer my ongelooflik. Ek oorweeg om ‘Die dinge van ‘n kind’, ook van Marita, na ‘Griet kom weer te lees. Ek is halfpad met Griet…

Dertig het vir my ‘n wonderbaarlike openbaring gebring. Ek het besef dat my skrywersblok alleenlik gebreek sal kan word deur weer te lees. My lewe het so besig geraak van ander mense en hulle gelukkig hou en seker te maak hulle is ok, dat ek myself afgeskeep het. Ek is ‘n kranige bibliofiel en wil graag meer as ooit tevore ons Afrikaanse skrywers se boeke verslind. Ek is baie lief vir Francine Rivers, maar dit is asof ons Afrikaanse skrywers se taalgebruik soveel ryker is. Dit is nou maar een ding van ons taal, jy sê hom soos hy is. Jy rol jou R’e en sing jou S’e. Die gedagte aan ‘n speurverhaal skryf laat my kinderlik opgewonde. Maar voor ek dit kan doen moet ek dit lees. Hier is my lysie van boeke vir die jaar. Ek sal ook ‘n resensie van elkeen doen nadat ek dit gelees het.

‘Griet kom weer’ – Marita van der Vyfer

‘Die dinge van ‘n kind’ – Marita van der Vyfer

‘Koors’ – Deon Meyer

‘Ikarus’ – Deon Meyer

‘Tuisland’ – Karin Brynard

‘Ballade vir ‘n enkeling’ – Leon van Nierop

Ek verwag dat my woordeskat majestueus sal uitbrei na hierdie gelees. Oor vier maande sal ek weet of my manuskrip in ‘n boekvorm uitgegee sal word. Intussen kruip ek nou in my dop na die vreedsame, veilige, stille kluisenaarslewe en bepaal my by my eie dinge en skrywerye. Wie weet, meskien het ek binnekort weer ‘n storie om te vertel.

Toodles!

 

2 thoughts on “Dit raak beter as jy ouer raak.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s