Oumense, Vroumense, kinders & poeding.

Hallo daar,

Gedorie tog. Ek het alweer so lanklaas geskrywe, maar ek dink as jy een van my dae moet ervaar gaan jy dankbaar wees vir jou eie.

Oumense. My ouma is terug in Suid Afrika na ses maande in Australië en ek kan nie mEEr in my element wees nie. Ek gaan haal haar elke oggend en dan kuier sy deur die dag by my. Dit is vir my die grootste voorreg om in die posisie te wees waarin ek is. Die persoon wat my moes leer hoe om ‘n lepel te gebruik, leer ek nou hoe om haar iPhone te gebruik. Ons gesels ure aaneen elke dag en wanneer ek swot, lees sy. Dit is vir my wonderlik om van haar eie kinder jare te hoor en haar pa, my oupa grootjie; wat ‘n predikant was. Lyk my die ding kom al ‘n lang pad in ons familie. Hehe! Die heel spesiaalste storie wat sy my vandag vertel het was van my eie geboorte. Nie omdat dit van my geboorte was nie, maar die manier waarop haar oë opgehelder het toe sy dit vertel het was prysloos. Ek is so baie lief vir haar.

Vroumense. Ek het so lanklaas tyd vir myself gehad dat ek sukkel om te onthou presies hoe dit voel om mooi aan te trek vir die dag en mooi grimering aan te sit terwyl my hare glad geblaas is. Ek smag daarna om my rooi lippe aan te smeer en te dink: ‘Ja. Jy het goed gedoen vandag. Jy lyk mooi vir jou man.’ Soos dinge nou lyk sal dit heel montlik nog ‘n rukkie vat tot daardie dag kop uitsteek.

Kinders. Een word en ‘n magdom van gedagtes en herinneringe ‘flashflood’ my brein. My girly is siek op die stadium en gaan ek haar maar ‘n dag of twee by die huis hou om gesond te word. Dit is nie lekker om haar so te sien nie. Ek voel sommer vir haar part ook sleg. Die oorweging om saam met haar in die kot te klim is vanaand sterk.

Seuntjies. Geraas met vuilheid daarop. Dit is so groot voorreg om te dink dat ek besig is om die fondasie vir iemand se toekomstige man te lê. Die waardes en standaarde wat ek hom vandag en hierna gaan leer sal ewig in sy hart en lewensfondasie vasgemessel wees. Dit wat hy nie nou aanleer nie sal hy nie doen wanneer hy ‘n volwasse man is nie. Scary nè?

Ek dra hom anderaand bed toe. Nes elke vorige aand. Hy is op so lekker stadium nou. In ‘n oomblik van swakheid erken ek aan hom dat ek hom net so klein rukkie langer wil klein hou. Dit is vir my so lekker. Nietemin. Hy antwoord met die volgende: “Aaaah, ek kan nie nog klein bly nie.” Ek vra hom waarom nie? Sy antwoord deurboor my: “Want dan kan ek nie ‘n pappa word nie.” Hy is vier en half jaar oud… In daardie oomblik besef ek weer hoe groot die verantwoordelikheid om hom groot te maak is. Hy sal eendag iemand se papa wees indien die Here nie voor dan kom nie en presies die dinge wat ek hom vandag leer sal hy aan ons kleinkinders leer. Wees versigtig wat jy, jou kinders leer. Train up a child in the way that he should go and he will never depart from it.

Direk na sy pappa antwoord het hy skielik weer onthou dat hy eendag ‘n dinosaur wil word. Ek was verlig om weer my seuntjie terug te hê.

Poeding. Dit is nou al ‘n geruime tyd wat ek lus is vir my ouma se Roly Poly en ek het haar gesê voordat sy teruggekom het dat sy my nog moet leer hoe om dit te maak. Sy het my gister: Dinsdag, geleer en as ek self moet sê, dit het heerlik uitgekom. Ek het dit een maal gemaak en kan dit al amper uit my kop uit maak. Dit was so lekker dat ek graag die resep met julle wil deel. Hier is hy:

Roly-poly pudding. (Rolpoeding)

Bestandele:

500ml Meelblom, 2.5ml sout, 10ml bakpoeier, 80ml botter of margerien, 2 eiers geklits, 60ml melk, fyn appelkooskonfyt.

Sous:

500ml kookwater, 250ml suiker, 30ml botter (opsioneel), 5ml vanielje geursel.

Metode:

Voorverhit die oond tot op 180°C (350°F). Sif die meel, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter of margerien met die vingerpunte in.

Voeg die eiers en net genoeg melk by om ‘n stywe deeg te vorm.

Rol ‘n wurmpie met die deeg tussen die palms van jou hande. Rol die deeg dan dun (1cm) uit en smeer dik met die appelkooskonfyt. Rol dit dan weer op soos ‘n rolkoek.

Sny die deeg in ‘wiele’ van ongeveer 3cm breed.

Kook die water, suiker, botter / margerien en vanielje geursel in ‘n klein kastrol vir ongeveer 3minute om die sous te maak.

Gooi die stroop in ‘n oondvaste bak en pak die gesnyde wiele plat daarin.

Bak vir ongeveer 45min of tot goudbruin. Bedien warm met vla.

Toodles!

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s