Lasarus – Deel 3

Die oggend breek oor die horison van Judea. Lasarus is alreeds twee dae in sy graf. Maria versorg haar suster Martha. Sy het al die slawe van die huishouding verlof gegee sodat hulle ook kan rou. Martha sit by die venster en tuur die verte in. Sy kon nie slaap nie. Haar oë is droog gehuil. So vol soos haar arms was met Lasarus, so leeg is hulle nou. Maria buig skuins oor Martha se skouer en gee vir haar teë aan. “Kan ek vir jou iets gee om te eet?” Maria was tot dusver nog net sterk. Sy het nog geen traan gestort nie. Nog net bedien. Martha skud haar kop. “Jy moet eet om jou kragte op te hou.” Troos Maria sag. “Ek wil nie nou eet nie.” Sê Martha skerp. Maria kies om nie verder te pla nie. Sy weet Martha sal eet wanneer sy honger is.

Jesus en sy dissippels word een vir een wakker met die breek van die nuwe dag. Jesus was eerste wakker en is reeds terug van sy gebedstyd. Jesus neem Sy stapstok op en lig Sy kopdoek oor Sy hoof. “Staan op. Ons moet na Judea gaan.” Johannes het net na Jesus opgestaan. “Rabbi,” antwoord hy vraend. “Net ‘n klein rukkie terug het hulle U daar probeer stenig en nou wil U weer terug gaan daarheen?” Hy staan op en lig sy mantel oor sy skouers. Jesus begryp Johannes se bekommernis, maar antwoord hom. “Is daar nie twaald uur in die daglig nie? Enigeen wat in die dag wandel sal nie struikel nie, maar die wat in die nag wandel sal sekerlik struikel, omdat hulle geen lig het nie. Lasarus het aan die slaap geraak; maar ek gaan daarheen om hom wakker te maak.”

Simon sit regop nadat hy stilweg na die gesprek geluister het. “Heer, as hy dan slaap sal hy sekerlik beter word.” Jesus het bedoel dat Lasarus reeds dood was, maar sy dissippels het gedink dat Hy bedoel Lasarus het net gaan slaap. Jesus staan heeltemal regop en stamp met die stapstok op die grond. “Lasarus is dood en vir julle onthalwe is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle mag glo. Kom ons gaan nou na hom toe.” Thomas staan langs Jesus. Gereed om te vertrek. “Ek stel voor julle kry julleself gereed sodat ons kan vertrek.” Al twaalf dissippels saam met Jesus vertrek ‘n kort rukkie later na Judea.

“Martha! Martha!” Roep Abia op pad na haar. “Jesus is op pad. Hy is amper hier!” Martha spring uit haar dagdroom op en begin hardloop. Haar voete tref die stowwerige pad hard. Sy trek haar rok effens om sodat sy vinniger kan hardloop. Sy sien Jesus ‘n paar meter aan. Skielik val sy voor Sy voete neer. “Jesus!” Roep sy rou uit. “As Jy hier was, was my broer nie nou dood nie.” Rou hartseer spoel uit haar uit. Sy gryp Jesus se enkels vas en bevestig; “Maar ek weet dat selfs nou sal God aan Jou gee watokal Jy vra.” Jesus buk af en neem haar hande in Syne. Hy lig haar ken om in haar oë te kyk. “Jou broer sal weer opstaan.” Martha huil steeds. Stowwerige traan strepe oor haar wange verklap haar rou emosie. “Ek weet hy sal weer opstaan met die opstanding op die laaste dag van hierdie wêreld.” Sy snik diep en vee haar oë met haar voorskoot droog. “Ek is die opstanding en die lewe Martha. Elkeen wat in my glo sal lewe, al sterwe hy. Glo jy dit?” “Ja Heer” Antwoord Martha sag. “Ek glo U is die Messias, die Seun van God.”

In die huis is Maria besig om die vars brood op die tafel te sit. Lasarus is al vier dae in die graf. Jesus is te laat. Dink sy by haarself. Martha bars by die deur in. “Die Leraar is hier! En Hy vra na jou.” Sonder enige woord los Maria alles waarmee sy besig is en hardloop Jesus tegemoed. Haar hande nog vol meel en klere vuil, maar sy weet Hy kyk nie na haar uiterlike nie, maar na haar hart. Agter haar hardloop ‘n groep Jode wat gesien het hoe vinnig sy alles los en die pad af hardloop. Vir die eerste maal stort sy haar eie trane oor haar broer. Sy val voor Jesus se voete neer. Stil snikke deur haar rukkende skouers verklap haar bitterheid. “Heer, as U hier was sou my broer steeds geleef het.” Jesus aanskou haar bittere seer en word inniglik geraak deur die vrou se hartseer.

“Waar het julle hom neergelê?” Hy help Maria op vanaf die grond waar sy nou plat voor Hom lê. “Kom kyk.” Maria en Martha loop hand aan hand vooruit. Jesus huil saam met hulle. Hy het Lasarus liefgehad. Agter in die groep Jode is daar ‘n onderlangse bespiegeling. “Kon hierdie man wat blindes laat sien, nie verhoed het dat Lasarus sou sterf nie?” Jesus steur Hom nie aan hulle sinnelose woorde nie. Hy weet hierdie oomblik is tot eer van Sy Vader.

By die graf huil Jesus self ook hard. Hy rus met Sy hand teen die steen wat die opening bedek. Sy hare bedek Sy gesig, maar die stille rukke van Sy skouers raak Martha en Maria soveel so dat hul nader aan Hom staan om Hom te troos. “Rol weg die klip.” Beveel Jesus die dissippels. Sy stem ferm gevul met autoriteit. “Maar Heer,” Keer Martha. Hy is alreeds vier dae in die graf. Daar sal alreeds ‘n reuk aan hom wees.” Jesus draai na Martha. Liefde in sy natgehuilde oë deurboor haar. “Het ek nie aan jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?”

Die dissippels tree vorentoe en begin die klip voor die graf weg te rol. Jesus kyk op na die Hemel, Sy gesig gevul met hartseer. “Vader, Ek dank U dat U my gehoor het. Ek weet dat U my altyd hoor, maar hierdie spreek Ek tot die voordeel van die mense wat nou hier staan, sodat hulle mag glo dat U My gestuur het. Nadat Jesus hierdie woorde gespreek het kyk Hy in die graf in en roep met ‘n harde stem. So hard dat dit vêr gehoor kon word. “Lasarus, kom uit!” In ‘n oogwink verskyn Lasarus by die ingang van die graf. Sy hande en voete steeds toegedraai in linne en ‘n lap om sy gesig. Jesus draai na Martha en Maria. “Trek uit die graf klere en laat hom gaan.”

Martha en Maria staan verstom oor dit wat pas gebeur het. Hulle woorde het verdwyn. Abia kom nader gestap en fluister in Martha se oor. “Sal ek solank water kry om die reuk af te was?”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s