Die gedagtes van ‘n kind.

DSC_5004

As kind het ek baie in my eie verbeeldingswêreld geleef. Ek het vreeslik baie oor allerlei dinge gewonder. Die grootste ding waaroor ek gewonder het was volwassenheid.

Ek wonder nou nog daaroor. Wanneer is mens nou eintlik volwasse? Soms voel ek maar net soos ‘n kind wat kinders gehad het. Ek was ses-en-twintig toe my oudste gebore is en as en nou moet terug dink sou ek baie beslis sê dat ek nognie gereed was op daardie ouderdom nie, maar is mens ooit volwasse genoeg om kinders te hê? Ek dink om kinders te hê is die enigste ding wat mens werklik volwasse sal maak. Nie in almal se geval nie, maar meeste.

Elkgeval. As kind was volwassenheid vir my ‘n teken van vryheid. Jy kan gaan en doen nes jy wil. Jy kan net jy wees. Jy het geen tyd om by die huis te moet wees nie, jy kan eet net wat jy wil… (Nie noodwendig ‘n goeie ding nie…) Vryheid, dit is waarna ek gesmag het as kind. Kyk, dit is niemand se skuld nie. Dit was bloot ‘n sameloop van omstandighede wat veroorsaak het dat ek so gevoel het. Toe ek uiteindelik daardie ‘vryheid’ kry het ek nie geweet wat om daarmee te maak nie.

Ek het bos gegaan. Ek wou net wees. Ek wou net my eie mens wees, maar jy kan nie jou eie mens wees as jy nie weet wie jy as mens is nie. Ek het nie besef dat ek nie myself geken het nie. Ek onthou duidelik hoe ek op twaalfjarige ouderdom voor die spieël staan terwyl ek my hare kam en wonder: “Sal ek vir die res van my lewe met hierdie gesig kan saamleef? Toemaar, as ek eendag ‘n bekende aktrise is kan ek iets daaraan doen.”

Jip, dit is presies hoe ek as klein dogtertjie gedink het. Van ‘n jong ouderdom af het ek gesmag na aanvaarding. Daar is verskeie redes daarvoor wat ek nie nou hier gaan bespreek nie. Ek is vandat ek kan onthou gespot. Daar was altyd iets. My lippe is te vol. My ore is te groot. My neus is te wip. My lag is te skril. Ag weet jy. Sommer klomp snert. Ek is dankbaar dat ek nou op dertig jarige ouderdom presies weet wie ek is en wat ek met die res van my lewe wil doen. Ek is lief vir my lyf en ek is lief vir myself. Ek dink nie ek is beter as ander nie, maar as ek nie gemaklik is met myself nie, hoe gaan ander kan gemaklik wees met my?

Om geboelie te word het ‘n groot impak op my lewe gehad. Dit het ook ‘n groot bydrae gehad tot die persoon wie ek vandag is, maar dit het my nooit gebreek nie. Ek dink ek het altyd geweet dat ek nooit alleen sal wees terwyl die Here saam my is nie. Ons het oral rondgetrek. In my dertig jaar het ek al elf keer getrek na ‘n ander dorp. In my twaalf jaar van skool was ek in ses verskillende laerskole en in een hoërskool. Ek is in elke dorp, in elke skool geboelie. Ek het gedink dit sou ophou na skool, maar ek is nou dertig en is nog tot onlangs geboelie. Yep… Ek weet wat jy dink. Dit kan nie wees nie. Dit is…

Die grootste les hieromtrent, en dit sou heel moontlik vroër gestop het as ek al vroër tot die volgende besef gekom het; ek is nie ‘n ‘victim’ nie. Ek het ‘n keuse. Ek kan gaan sit in ‘n hoek en kripeer en ‘n jammer dat ek leef houding hê oor ek so behandel word of ek kan opstaan en wys waarvan ek gemaak is. As volwassene is boelies gewoonlik geneig om jou emosioneel af te kraak. Dit kan verbaal gebeur of dit kan in optrede gebeur. Wanneer iemand van jou sleg praat is dit ook ‘n vorm van boelie. Ek wou ‘n aktrise word omdat ek gedink het ek op so manier sou kon ontslae raak van die alewige geboelie, maar dit is nie waar nie. Ek het ook gedink ek sou op so manier vir ander ‘n baken van hoop kan wees, dat jy enigiets kan oorleef. Dit is ook nie waar nie, want met dit wat ek nou doen wys ek alreeds dat jy enigiets kan oorkom as jy net jou fokus op die regte area plaas.

Iemand wat jou boelie, fisies of emosioneel is eenvoudig ongelukkig in hulself. Hul sien dat jy oor ‘n lig beskik wat hulle nodig het in hulle lewens en hul weet nie hoe om dit te kry nie. Die manier om dit te beveg is om vriendelik te wees met hulle. Hulle sal gou genoeg verveeld raak en jou dan begin vra hoe jy dit regkry om ten spyte van alles bo uit te styg.

My storie boek ‘Karoo Vryheid’ sal einde van die maand beskikbaar wees, my motiverings video’s op Facebook doen goed en my blog styg daagliks met nuwe lesers. Ek sal ook my eerste praatjie op DVD bekend kan stel teen einde November. Dit is ‘n resep om boelies te lok. Ek praat uit ondervinding. 😉 Dit is wanneer iemand bo alles uitstyg wat dit boelies nader lok. Dit is die feit dat jy ten spyte van jou agtergrond steeds jou kop kan hoog hou en vreugdevol leef wat mense inspireer om ook so te maak.

As kind het ek gewonder of ek ooit vir die res van my lewe gebind gaan wees en smag na vryheid. As volwassene het ek geleer dat saam met die Here loop ek ‘n bende storm en spring ek oor ‘n muur. Dit is alleenlik wanneer jy, jouself en jou uniekheid in die Here gevind het dat jy bo jou agtergrond en omstandighede kan uitstyg. As volwassene het ek nie mense se aanvaarding en beloning nodig nie. Ek smag na goeie verhoudings ja, maar ‘n verhouding kom ook nie net van een kant af nie. Albei partye betrokke moet daaraan werk om dit suksesvol te maak. As volwassene wil ek hoop gee aan jou wat nou hier lees dat jou agtergrond en jou omstandighede definieer jou nie, wat jy daarmee doen en hoe jy daarop reageer definieer jou. As volwassene wil ek mense inspireer om hul drome (Die plan van God vir hul lewens) na te jaag en dit in te haal.

Jy is meer as oorwinnaar in Christus en daarom kan jy, jou volle potensiaal bereik in die sekerheid dat jy dit nooit alleen sal doen nie, want Hy sal jou nooit verlaat nie. Jy hoef nie mense te vrees nie, Hy het reeds oorwin.

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s