Ek is seker jy is nou al moeg gelees aan “Happy New Year!” “Hêppy Hêppy.” “Voorspoedige Nuwe Jaar!” So hierdie gaan nie een van daai wees nie.
Hierdie afgelope Desember het ek probeer dink aan nuwe doelwitte wat ek graag wil stel. Wat is dit wat ek graag sal wil bereik in 2019? Sal ek weer iets wil studeer? Miskien. Sal ek wil leer keyboard speel? Dit sou lekker wees. En hoe meer ek dink en wonder oor wat ek graag sal wil bereik bly my gedagtes leeg. Dol leeg. Ek het al die negatiewe invloede op my gedagtes en emosies in 2018 neergesit en by 2019 aangeklop.
Ek is tevrede. Tevrede met wie ek in 2018 geword het. Tevrede met die perke wat ek gestel het. Tevrede in my huwelik. Tevrede met my kinders. Tevrede met die lewe. Ek kom niks kort nie.
Soos om ‘n nuwe huis binne te gaan het ek my eerste tree binne die nuwe huis van 2019 gegee en dit is leeg. So leeg soos my nuwe jaar voornemens.
Daarom het ek besluit om myself aan 2019 voor te stel.
“Aangename kennis 2019.” Groet ek vriendelik. “Hier is ek. Hier is ons. 2018 was goed vir my. Ek het dit daar geniet, maar dit was nodig vir trek. Ek was moeg vir die rotte wat so gereeld en onverwags hul verskyning gemaak het en dan moes ek die besem nader trek en perke stel. Ek staan voor jou met leë arms. Geen verwagtinge en geen vooropgestelde idees. In my rugsak is slegs díe doelwitte waaraan ek reeds besig is om te werk. Dankie dat jy skoon en georganiseerd is 2019. Dankie dat jy my onder jou dak verwelkom. Ek voel alreeds tuis.”
Ek loer skuins af na my skoene. Die sole is effe deurgewerk van al die stof wat ek opgeskop het met my dans van die lewe in 2018.
“Gee jy om?” 2019 glimlag en knik. Ek buk stadig af en trek my deurgeskoffelde skoene uit. 2019 hou ‘n nuwe paar skoene na my toe uit. Bloed rooi hakskoene. Oorgetrek met blinkers en rooi steentjies. Dit lyk soos die van Dorothy uit The Wizard of Oz! Die enigste verskil hier is dat hierdie skoene ‘n lekker paar hakke het. So met hierdie skoene sal ek weer dans. Rond en om en om in 2019.
(Hierdie is régtig my skoene.)
“Dankie.” Ek glimlag beleefd met ‘n blos op my wange. “Jy ken my alreeds so goed. Met hierdie skoene sal ek elke dag een treë op ‘n slag gee. Met hierdie skoene sal ek loop waar die Here my vat saam jou 2019. Ek is oop en beskikbaar vir Hom.” En met daardie woorde gee ek my finale treë tot binne in my nuwe tuiste. 2019. My rugsak plof neer op die skoon vloer en ek ruik die vars reuk van blomme in die huis. Ek is tuis en ek is beskikbaar om te werk net waar die Here my wil hê.
Toodles!
Ek sal wat wou gee vir so ‘n paar rooi skoene, hoor!
Hulle is my heel gunsteling! Ook my duurste. 😂
Elke sent werd. ❤️
Absoluut!
Mal daaroor! Wat ‘n lekker vars briesie!
Dankie Liza*
Mag jy heeljaar dans met daardie pragtige rooi skoentjies!
Baie dankie Seegogga* Mag jy ook op die blye ritme van die lewe dans hierdie jaar.
Rooi skoene wat pas by jou rooi lippe. Dans, Katryn, dans
Dankie Positief! Ek gaan elke praatjie wat ek hierdie jaar doen hierdie skoene aantrek.