Te lui.

Ek was die afgelope paar dae net eenvoudig te lui om te skryf. Of dalk nie lui nie. Ek het my liggaam kans gegee om te herstel. Nadat ek so siek was verlede naweek en toe nog hierdie week ook ‘n snotterigheid aan my gekry het en ‘n toe bors het ek myself kans gegee.

In die verlede sou dit my maklik 2-3 weke neem om oor so iets te kom en ek was vas oortuig dat dit hierdie keer dalk veel erger sou wees omdat dit die eerste maal in 3 jaar is wat ek siek geword het… Maar nee, dit was nou slegs ‘n week en ek is so te sê gesond!

Met boeta gaan dit goed by die skool. Hy moet nou in die middae lees oefen en dit gaan moeilik… Hy kan lees. Hy wil lees. Hy wil net nie klank nie. Hulle moet eers die letters van elke woord klank voordat hulle die woord mag lees.

Maandag middag was ‘n behoorlike petalje.

Hy moes hierdie week elke dag vyf kort woordjies skryf wat elke dag ‘n spesifieke letter in die middel moet hê. A. E. I. O.

Elke woord moet hy klank en dan as een lees. Boeta was later in trane van frustrasie, want hy wil nie klank nie, hy wil net lees… Nou ja toe. Een en half uur later is ons klaar met die vyf woorde.

Ek sê julle, dit is verskriklik om so te wees. Ek self is ook so. Mens weet jy kan al ‘n ding doen maar die uitgerekte prosedure is ‘n kopseer.

Met sussie gaan dit voor die wind. Twee jaar terug gister het ons ‘n kop aan kop botsing met die Terrible two’s gehad en dit het TWEE JAAR geduur. Twee jaar van dááglikse vloermoere. Twee jaar van raas. Twee jaar van moedeloos wees. Twee jaar van saam huil. Twee jaar van vloermoer kompetisie. Twee jaar van omkoop. Twee jaar van dreig. Twee jaar van die Tokkelossie roep. 😂😂😂 (Toemaar, hulle weet nou dis net ‘n opmaak storie en nee, hulle is nie bang nie.) maar dit het gehelp…

Nou ja. Die vloermoere is nou beter, maar nou het ‘n ander ding sy kop begin uitsteek.

Houding.

As sussie nie haar sin kry nie, wip sy haar in ‘n ander bloedgroep in en stap vinnig neus in die lug kamer toe met die volgende woorde: “Ek gaan wegloop!” Dan flop sy op haar bed neer soos ‘n Disney prinses en huil hartstogtelik oor wat ookal ek nou alweer nie wou gee of doen nie. Dan rol ek my oë so hard terug ek sal my ruggraat sien en maak nog ‘n koffie…

So dit is hoe dit nou by ons gaan.

Aan die ander kant het ek nou by ‘n internasionale besigheid aangesluit met ongelooflike skoonheids en gesondheids produkte wat ek self uitgetoets het vir iemand en toe soek ek ook my eie besigheid. Ek sal hierdie internasionaal kan doen en van die huis af. Uiteindelik iets wat ek kan doen vir ‘n inkomste en my man sal nie kla omdat ek of teveel elektrisiteit spandeer met die beskuit wat ek gebak en verkoop het nie en hy sal ook nie kla omdat ek te laat van die werk af huis toe kom nie. Ha ha ha! Ai weet jy, wat ons nie als doen om ons mans gelukkig te hou nie.

Net ingeval julle sou wou weet. Hierdie is een van die produkte. Ek het dit begin drink net voor ek siek geword het en ek glo vas die antioksidante hierin help my liggaam vinniger herstel. Ek het meer energie. Ek slaap beter. En my gemoed is ligter.

Hierdie is ouboet wat net wil lees en nie wil klank nie… Arme man was nie lus vir die regte prosedure volg nie.

Hierdie was met valentynsdag by sussie se skool. Sy is so happy go lucky mensie. Wel… Oor die algemeen.

Intussen het ek ook ons YouTube kanaal op die been gebring. Daar gaan ons al ons Amerika avonture deel, maar vir nou geniet ons nog ons Suid Afrika avonture. Ek laai elke Maandag ‘n nuwe video daar op. Hier is die skakel. Ek sal dit waardeer as jy kan gaan Subscribe.

https://www.youtube.com/channel/UCkxYiLv-yCbYv2lpJ49RI1w

So dit is ons afgelope week. Ek hoop dit gaan goed by jou en dat jy nog glimlag.

Toodles!

14 thoughts on “Te lui.

  1. HesterLeyNel sê:

    Ag, arme Ouboet. My middelkind kon ook net nie die klanke en die woorde bymekaar bring nie. Ek onthou hoe het hy geklank: k-a-t = rok 🙄 Hoe? Vandag is hy my kind wat in beide tale die beste kan spel.

  2. pajamasmetsokkies sê:

    My liewe vriendin. (Jy voel al soos ‘n vriendin), klink my die normaal van ouer-wees het jou behoorlik getref!
    As jy met ‘n sterk-wiletjie kind sit, moenie moed opgee nie. Daar is hoop. Ek weet van ‘n oulike boek wat jy kan bestudeer daaroor as jy belang sou stel.
    Sterkte met alles! xx

    • sonell sê:

      Dit is nou baie spesiaal om jou vriendin genoem te word en dit is so. Ons voel regtig soos vriendinne.

      Baie dankie. Ek stel beslis belang. Ek self het ‘n sterk wil so ek wil haar leer hoe om dit reg te gebruik.

  3. perdebytjie sê:

    Hehe, as sy weer dreig om weg te loop, haal ‘n tas uit en help haar om haar klere te pak. My ma het dit met my gedoen en ek onthou dit het my soos ‘n bom getref dat ek nie wil wegloop nie! Ag ek kry jou seuntjie so jammer. Dis waar jy vir hom dit eenkeer laat doen en dan los om sy eie goed te lees.
    Wanneer vertrek julle Amerika toe?

    • sonell sê:

      Ek gaan dit beslis doen!

      Ja wat, ek het gedink ons gaan dit nou maar op ‘n manier aanpak wat hom sal pas.

      Ons begin nou met die proses so eers volgende jaar die tyd sal ons gaan. 🤗

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s