‘n Muis, Slang en haarsny.

Kyk, ek skrik vir min dinge in die lewe. Ek het immers al my “MA-graad” verwerf. Kinders wat opgooi? Ek maak dit gou skoon. Poef oral? Dis ‘n vulletjie. Tune dit gou met wetwipes. Vuil skottelgoed? Daai probleempie gooi ek vinnig onder ‘n vadoek toe.

Maar daar is 4 goed in hierdie lewe wat jy liefs nie naby my moet bring nie. Kyk, as ek nou vir ondervraging moet gaan vir whatever en jy wil hê ek moet praat dan moet jy nou een van hierdie 4 goed naby my bring. Kyk, ek praat vir jou so vinnig jy sal dink ek spreek in tale.

‘n Muis, ‘n Slang, ‘n Spinnekop en ‘n Padda…

Hierdie afgelope week het ek 3 van die goed teëgekom. Nog net nie die padda nie…

Voor ons wegbreek vertel die hubster my van die muis wat in ons huis woon. Ek sê “Bog man! Ek weet jy het net weer gepoep.” (Altyd as hy ‘n windjie laat glip sal hy sê: “Kyk, daar hol die muis.” Die kinders val nog daarvoor, maar ek rol my oë so terug ek sien my eie ruggraat.

Nietemin, wraggies toe sien ek die muis! So lekker vette. Leef seker van die krummels wat die kinders mors. Die afgelope naweek is die hubster en ek so paar geleende ure alleen by die huis. Ons popcorn en fliek van die bank af soos twee couch potatoes. Daar hardloop die muis weer! Die ding is lekker wintie. Loer vir ons en kruip weg, loer en hol! Ek gil en pluk my bene en kombers als op die bank soos ‘n wafferse vroutjie wat haarself nie kan help nie. Die muis is agter die kas in die eetkamer. Later staan ek met een voet op ‘n eetkamer stoel en die ander voet op die tafel net om die kas geskuif te kry en te verhoed dat die muis oor my tone kriewel. Julle… Die hubster is daar in met die besem. Kas uit die pad, yskas weggeskuif, als holderstebolder, maar geen muis. Skoonveld. Eergister toe hol die huis muis in die gang se badkamer in. Ek pluk die deur toe en sê “Nou gaan jy vrek van die honger.” Hy bly daar vir twee dae lank. Ons gooi gif in, sit ‘n rottevanger daar binne, hou die deur toe. Laasnag maak die hubster die deur oop. Die muis is nie daar nie. Seker agter die toilet om die lewe gekom?

Toe nie, die muis leef voort en ons soek hom weer…

Vanoggend kry my “garden scaper” ‘n klein mol slang in ons tuin. Ek word nader geroep. Die ding is klaar dood. (Jammer vir die natuur liefhebbers en tree huggers, sulke goed oorleef nie by ons) My tuin tegnikus hou die graaf met die dooie, maar steeds kriewelende (seker rigor mortis) slang nader. Ek maak my amper nat so gril ek!!! Met die gedagte verlaat ek die huis, want met slange en muise kan ek nie adult nie.

Gister by die vergadering wat ek bygewoon het is ‘n klein spinnekoppie op my nota papiere… Ek hou kop. Hier kan ek nou nie wil gil vir so klein dingetjie nie. Ek lig die papiere en skud hom op die vloer. Wat die oog nie sien nie…

Na die slang ontmoeting is ek uit by die deur. Besluit om die punte van my hare te laat sny by die uitlander by ons Pick n Pay. Ek het nie meer geld vir my gewone salon waarheen ek altyd gaan nie, so nou het ek boks kleur op my kop en sit voet in die hoek na die uitlander.

Gaan sit in die stoel. Die man sny meestal mans hare, maar so paar vroue (hoor ek) was al by hom. Nog nie met enige van hul gepraat nie, maar ek sit. Die man begin my hare kam. Kyk… My hare was nog nooit so gekam soos vanoggend nie. Seker elke haar het daardie kam geraak. Toe begin hy dit optrek in ‘n poniestert. Ek vra nie vrae nie. Die man kam mos my hare. Volgende oomblik sny hy ‘n stuk af wat lyk soos 10cm!!! My oë rek soos pierings. “No! Please! Only the ends. I am trying to grow.” Spoeg ek uit met my rou afrikaanse aksent. Die ou sê “Look, is still same. It not my first time.” Sê jou, skrik my amper in ‘n ander bloedgroep in. Nietemin, nadat hy behoorlik gesny het is al die gebreekte punte af en lyk en voel ek sommer vars.

So lyk ek. Moenie die moë oë maaind nie. Sit nou by binneland se sake vir my “Unabridged birth certificate ” waarvoor ons moet aansoek doen anders kan ons nêrens heen gaan buite die landsgrense nie.

Die vakansie is uiteindelik verby. Die kinders is oorweldig en ek is beide verlig dat die skool begin het en oorweeg tuisskool.

Ons bid die tyd om, om te hoor waar ons sake staan. Hopelik gou. Maar ons onthou ook “Life is what happens while you’re making other plans.” My wyse skoonmoeder se woorde.

Hoe gaan dit by jou?

Toodles!

N.s. Sopas een en ‘n half uur gesit en toe ek voor kom is die sisteem van lyn af. Beslis nie ‘n goeie idee om nou die lotto te speel nie. Lady luck is aan iemand anders se kant. 😜

Advertisements

11 thoughts on “‘n Muis, Slang en haarsny.

  1. Toortsie sê:

    Die muis. Julle moet dringend gif uitsit. Ja, julle het reeds. Sit dit waar hy veilig voel op ‘n donker plekkie. Hy gaan vir julle groot skade bring. Hy maak nes in jou klere en beddegoed en vreet gate daarin.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s