Klits hom mamma, klits hom styf!

Klits hom mamma!

Hallo daar!

Nou ja, so het ek gedink dat ‘n mamma van ‘n dogtertjie seker gaan moet weet hoe om te bak nè? Met die briljante gedagte was ek, en is nogsteeds, ewig dankbaar dat ek nog my ouma by my het.

Ek onthou as klein 6/7 jarige dogtertjie het ek gesien hoe my ouma en BAIE ander tannies van die kerk koeksisters bak vir fondsinsameling. Ek onthou die meel walms in die lug, koeksisters wat in olie diepgebraai word en dan in yskoue soet stroop gedoop word. HEERLIK!!

Laat ek jou nou net sê, ek was nog nooit werklik iemand vir bak en tekere gaan nie. Kosmaak, die kan ek sommer baie geniet, maar wanneer dit by die gebak van soetgoed kom was ek nooit werklik so goed in nie. ok, ok, ek het nooit werklik probeer nie, dink ek was bang… Nou ja, as deel van my dankbaarheids mind change het ek ook besluit om vrese te oorkom soos bv. bak.

Ek kyk gereeld die tv kompetisie program, Koekedoor en dit het my SO lus gemaak om te bak. Ek vra toe my ouma of sy my groot asb sal leer om koeksisters, semel-beskuit en melktert te bak. Met groot opgewondenheid sê sy toe ja!

Ek het haar resepte gekry en die bestandele gaan koop….

So staan ek mos toe voor die gebak rakke in die winkel en ken nie die verskil tussen cake flour, wheat flour of selfs self-raising flour nie… Die resepte is in Afrikaans en daar slaat ek bot toe oor wat hierdie “Flours” in Afrikaans kan wees. Ek staar met vraagtekens oor my gesig na hierdie panarie. My handpalms beginne sweet en my skinny jeans bewe..

Laaste uitweg, bel vir ouma!!!

Sy sê toe vir my presies watter meel ek vir watter resep moet kry, ek sit die eerste een in die trollie, staan met die ander pakkie meel in my hand en ingedagte sit ek hom terug op die rak. Kry die res van die bestandele en gaan haal vir ouma.

Gekom by die huis begin die deurmekaargeit! Ek het ouma se koeksister resep misgekyk en die bestandele gekry vir my kook en geniet se resep. So wil ek ouma se stroop maak, maar die kook en geniet se deeg, maar ek het nie suurlemoensap nie, so ek begin om die ander resep se stroop te maak, kyk weer in die kas en vind die suurlemoensap. Ek het geweet ek het!! Nou ja, maak toe ouma se stroop, maar die ander resep se deeg, maar mind you, nie die regte meel nie… Die meel wat vir die melktert se kors bedoel is, gebruik ons toe vir die koeksisters. Ons sit die stroop in die yskas om oornag te staan en die deeg moet ook oornag nadat dit lekker geknie is sodat dit kan crispy koeksisters wees.

Die volgende ding op die lys was die beskuit!

Ouma se semel-beskuit resep kom al donkie jare en is altyd ‘n wenner. So besef ons weer, ek het ook nie die meel vir die beskuit gekry nie en gebruik ons toe ook sommer die meel wat vir die melktert se kors was. Ons meng al die droë bestandele, (so het ons gedink), gooi die botter by en begin invryf. Al die meel moet deurtrek wees met die botter. Toe kom die vraag…

“Ouma, het ons die suiker ingegooi?”

“Nee! Gooi maar nou in en dan proe ons maar hoe dit proe.”

Ons lê amper soos ons lag, want hoe kon ons van die suiker vergeet het!?

So vryf ek toe na die tyd die suiker in, gooi melk by ek sit die mengsel in die pan en binne in die oond. Nou moet hy maar proe soos hy wil proe! Suiker laaste en al. So 40min later is die beskuit pragtig goudbruin en gaar, ek en ouma was so nuuskierig om hierdie beskuit te proe ons breek die reels en sny dadelik vir ons elkeen ‘n stukkie warm nat beskuit af en eet dit saam met tee.

HEERLIK!!

Dankie tog! Hahahaha!

Die volgende dag was die gebraai van die koeksisters en die melktert bak aan die beurt. Ons braai, draai en doop daardie koeksisters dat hulle hulself verbeel hul is pinkster! Ek pik en proe al die pad. Crispy is hulle beslis en soet soos sweets. Lekker saam ‘n koppie tee.

En laastens lê die melktert voor… Die koeksisters en beskuit was redelik straight forward, maar die melktert het spesifieke goed soos eiers skei en eierwitte styfklits en seker maak jou eiergele skif nie as jy dit by die warm melk mengsel voeg nie. Die eiers skei is maklik en doen ek tjop tjop, maar die “trick” van die voorkoming van skifting moes ouma my wys. Darm nie te moeilik nie en ek het vinnig die eierwitte styfgeklits gekry. Die geheim daar is dat daar nie ‘n stukkie eiergeel mag inkom nie, anders gaan dit nie styfklits nie.

Hoewel ek huishoudkunde op skool gehad het, was dit nie werklik my beste vak nie. Toe ek met my man trou, kon ek two minute noodles maak en ‘n eier bak. Intussen het ek darm al lekker geleer kook en ‘n liefde daarvoor ontwikkel. Noudat ek ‘n mamma van ‘n dogtertjie is, voel ek soetgoed, koekies en beskuit is nodig. Veral vir, en ek bid dat sy dit nooit sal moet deurmaak nie, maar die eerste liefdesteleurstelling wat getroos sal word deur mamma se rooibostee en tuisgebakte beskuit. Ek bid dat dit eerder sal wees ‘n laatnag wat verander in ‘n vroë oggend omdat ons droom oor haar groot liefde wat haar pas gevra het om te trou.

Nou ja, terug by die melktert, dit het LIPLEKLEKKER uitgekom. Sponserig en romerig, smelt in jou mond! Jul kan gerus kom proe.

Die grootste geheim wat my ouma my geleer het in hierdie proses, en ek weet nie of ek die familie geheim mag verklap nie, maar ek gaan. Hierdie geheim het my ouma my geleer sonder om dit fisies te sê.

Vir die lekkerste gebak wat nooit flop nie moet jy twee dinge doen:

1. Jy moet jou resep DEEGLIK deurlees en aanhoudend terwyl jy bak en vooraf.

2. Jy moet dit met liefde doen. As jy nie ‘n groot hoop liefde bygooi nie, gaan jou afmetings nie reg wees nie en jy dalk teveel sout bygooi! 😉

Ek is dankbaar vir my ouma se resepte en ek is die heel dankbaarste dat sy dit met my kan deel en self vir my kan leer hoe om dit te doen.

My eerste stap om ‘n beter vrou en mamma te wees is gedoen. My man kan nou weet dat hy nou baie etes en poedings gaan moet beoordeel!

Toodles!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s