Liefde uit die lande – Deel 4

Riana hou die olielamp hoog om die pad te sien. Twee bekers stomende koffie in haar linkerhand. Benjamin se hut is ‘n entjie van die opstal, maar sy sien die kers in sy vensterbank brand steeds. ‘n Teken van hoop. Hoop wat die verlange in haar hart kan stilmaak. Dan hoor sy ‘n geritsel agter die skuur. Staan stil. Riana lig haar lamp in die rigting van die skuur. Dit is dalk net weer ‘n jakkals wat iets soek om te vreet. Sy stap aan. Weer hoor sy die geritsel. Nou nader. Sy lig haar lamp en sien Benjamin blaas sy kers dood en Josef kom uit sy hut gestap. Sy maak haar lamp dood en tree terug tot in die skadu van die skuur. Hoewel dit pik donker is, verlig die maan steeds genoeg om die nodigste te kan sien. Benjamin kom ook uit sy hut gestap. Josef trek hom die donker in. Riana weet hier is moeilikheid. Skielik beweeg ‘n skaduwee verby die skuur. Nadia gil in die opstal. Riana hardloop agterom. Laat val alles. Sy hardloop so vinnig as wat haar voete haar kan dra. Nadia gil weer. Sy kan hoor daar is ‘n geveg.

Bo-op Nadia sit ‘n indringer. Hul is in die kombuis. Riana kyk van die indringer na Nadia en terug. Sy takel hom. Stamp hom bo van Nadia af. Nadia skarrel in ‘n hoek in. Daar is bloed aan haar hoof waar die agterkant van die .303 haar getref het. Benjamin kom in die opstal ingehardloop geweer reg om te vuur. Riana stoei verwoed met die indringer. Benjamin trek hom van haar af in een beweging. Tref hom met ‘n regterhou onder die kakebeen. Die indringer sak inmekaar. “Daar is nog. Julle moet skuiling kry.” Waarsku Benjamin. Riana en Nadia harloop na die hoofslaapkamer. Riana sluit die deur. Albei kruip onder die katel in. Hulle kan die geveg hoor. Die plaaswerkers, Josef en Benjamin se stemme bo die skote. Hul veg vir die plaas. Vir hul lewe. Hul toekoms. Riana se hart klop in haar ore. Die klank verdoof haar. Onbewus van die geveg reg langs haar.

Stilte.

“Wag ma hier. Ek gaan kyk of dit veilig is.” Riana kruip versigtig  onder die katel uit. Sy stamp haar kop. “Eina!” Vryf haar agterkop en kruip op haar maag na die deur. Sy gaan rus saggies teen die deur en probeer luister vir stemme. Sy hoor voetstappe nader kom. Sy skarrel onder die katel in. ‘n Klop aan die deur verbreek die doodse stilte. “Riana. Dit is ek. Benjamin. Jul kan maar uitkom.” Riana kruip vinnig om die deur oop te sluit. Benjamin stap in. “Is julle oraait?” Sy bewe. Haar oë wel op soos die skok haar liggaam verlaat. “Ja.” Benjamin buk af om Nadia op te help. Sy lê met haar voorkop op haar gekruisde arms. Hy vat aan haar skouer. “Nadia. Dit is veilig. Jy mag maar uitkom.” Sy beweeg nie. “Nadia?” Riana besef iets is verkeerd. Benjamin verskuif die katel. “Ma?” Riana stap nader. Sy gaan kniel langs Nadia. “Ma? Word wakker ma. Dit is als verby.” Sy draai haar om. Nadia se bebloede gesig verklik die ergste. “Ma! Nee Ma! Word wakker ma. Word wakker.” Riana druk Nadia teen haar vas. “Gee haar terug Here. Sy is my ma! Gee haar terug!” Die rou snikke van Riana weergalm deur die opstal oor die plaas. Rou, bitter hartseer.

Benjamin gaan sit aan die hoof van die tafel in die kombuis. Hy vryf die spanning uit sy oë. Riana sit oorkant hom. Hoof gebuig en haar hande los op die swaar hout tafel. Josef se vrou Sarah sit die koffie voor hul neer. “Ek het vir Josef en Sarah gevra om haar lyk te versorg.” “Nee. Ek sal.” Riana, jy is in geen…” Sy val hom in die rede. “Hierdie was my ma. Hierdie was haar plaas. Ek het my god verlaat en haar God aangeneem. Sy het my aangeneem nadat ek met haar seun in die eg verbind was. Ek sal haar liggaam versorg.” Benjamin weet dat as hy nou met haar gaan stry, hy net die saak sal vererger. Hy vee ‘n verlore string hare agter haar oor in. Sy kyk op. “Jy kan more intrek. Ek sal in jou hut gaan bly. Ek sal in jou lande werk.” Benjamin bly ‘n oomblik in stilte sit. “Jy kan in die opstal bly tot na die begrafnis. Daarna kan jy besluit of jy steeds in die hut wil gaan bly.” Hy vat haar hand en druk dit sag.

Nadia se koue liggaam lê op die kombuistafel. Riana was die bloed van die wond af. Sy smeer Nadia se liggaam met vet in. Versorg haar hare en trek vir Nadia haar mooiste geblomde rok aan. Haar handskoene en haar skoene. Soos Riana Nadia se liggaam versorg dink sy aan hoe Maria Jesus se liggaam versorg het. Die prys wat Hy betaal het. Binnekort sal ons almal mekaar weer sien wanneer ons in verheerlikte liggame voor Hom staan. Josef en Benjamin bring die kis in. Sarah het die binnekant uitgevoer met lap en ‘n kussing vir Nadia se kop ingesit.

Die oggend van die begrafnis het aangebreek. Josef het die perdekar ingespan en Benjamin het gehelp om die kis op te laai. Riana kom in haar swart rok uitgestap. Haar gesig vertrek van die rou seer toe sy die kis sien. Sy vee haar oë skoon met haar wit sakdoek. Benjamin kan nie anders as om die kurwes van haar heupe; wat deur die plooie in haar lang rok geaksentueer word, raak te sien nie. Haar porselein vel; die perfekte kontras teenoor die donker rok. Riana steek haar hand uit en Benjamin help haar tot op die perdekar. Die rit grafte toe is uitmergelend. Riana huil, maar daar is geen klank nie. Net haar skouers wat rukbewegings uitvoer. Josef stop by die boom wat skaduwee oor die grafte gooi. Hy maak die perde vas en dan word die kis tot by die graf gedra. Benjamin kwoteer. “Die Here het gegee en die Here het geneem. Loof die naam van die Here.” Hy praat kort oor die lewe en hoe dit enige oomblik kan eindig. Hy vermaan almal om mekaar lief te hê soos wat Christus die kerk liefhet. Josef en sy drie seuns laat sak die kis in die aarde in. Riana sak op haar knieë. Bitter hartseer en verlange stroom uit haar uit. “Binnekort ma. Binnekort sien ons mekaar weer.” Benjamin help haar op en druk haar teen hom vas.

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s