Volk in ‘n vrou se hand – Deel 2

Debóra was as kind vreeslik besig. Sy het reg aan haar naam gedoen. Dit beteken By. Imaan was permanent op die oorlogspad met haar. Sy het aan alles gepeuter. Sy was ook vinnig met haar mylpale. Sy het gou geleer sit, kruip en loop. Alles in ‘n kwessie van ‘n paar maande. Korter as ‘n jaar. Toe sy begin praat was daar geen ophou nie. Imaan en Yusuf het naderhand pluisies in hul ore gedruk. Net so kleinbietjie stilte kan jou weer moed gee om aan te gaan. Maar wanneer Debóra geslaap het. Dan het sy die gesig van ‘n engel gehad. Imaan en Yusuf het haar gereeld bewonder. So ‘n groot seën in so klein mens.

Debóra het grootgeword. Deur die nikke en grille van tienerwees gegaan. Geleer kook en weef. Laatmiddag gaan water haal by die put. Maar daar was iets omtrent haar. Iets anders. Al die meisies wat saam met haar geloop het na die put het gereeld die skaapwagters bekyk en bewonder, maar nie Debóra nie. Haar oë en ore was altyd gerig op God. Sy het Hom bewonder. Hy was haar eerste en grootste liefde. Sy is met Láppidot getroud. Hy was ook ‘n veëboer. Die aantreklikste van almal en ook nie sleg af nie. Debóra het hom amper so lief gehad soos sy haar God liefgehad het.

Debóra sit onder die palm van Debóra, tussen Rama en Bet-el, op die gebergte van Efraim. Sy is ‘n gesalfde profetes van God en rigter oor Israel. Haar lang donker lokke hang oor haar linkerskouer. Dit was ‘n lang dag. Die volk het weer heeldag opgegaan na haar vir regspraak. Daar is weer oorlog aan die broei. Nadat Ehud die Moabiete verslaan het, het hy as rigter regeer. Na sy dood het die volk weer in hul sondige natuur verval. God het hulle uitgelewer aan Jabin, die koning van Kanaän. Hy het die volk vir twintig jaar laat swaarkry. Debóra onthou nog ‘n gedeelte daarvan. Sy kam haar vingers deur haar hare. Hulle sal hulself weereens moet verdedig teen ‘n volk wat hul God laster. “Amon, gaan roep asseblief vir my Barak, die seun van Náftali wat in Kedes woon. Dit is dringend. Hy moet dadelik kom.” Amon, Debóra se getroue boodskapper stap vinnig en haastig. Die volgende môre stap Barak heel eerste in. Debóra staan op en loop hom tegemoed. “Goeiemôre Barak. Ons het dringende sake om te bespreek.” “Goeiemôre Debóra. Wat is so belangrik?” Sy val met die deur in die huis. “Het die Here, die God van Israel, nie bevel gegee: Gaan, trek na die berg Tabor, en neem tienduisend man van die kinders van Náftali en van die kinders van Sébulon met jou saam? Dan sal Ek Sísera, die leërowerste van Jabin, met sy strydwaens en sy menigte na jou, na die spruit Kison trek, en ek sal hom in jou hand gee.” Barak is verleë. HY weet hy het ongehoorsaam opgetree en nie gedoen wat aan hom gesê was nie. “As u met my saamtrek sal ek gaan, maar as u nie met my saamtrek nie, gaan ek nie.” “Ek sal saamgaan, maar die eer sal nou nie meer joune wees nie. Want die Here sal Sísera in die hand van ‘n vrou verkoop.”

Debóra en Barak staan albei aan die bopunt van die berg Tabor. Elkeen sterk in hul wapenrusting. Die koning van Sísera het al sy strydwaens, negehonderd ysterwaens en al die manskappe wat saam met hom was bymekaar geroep. Hy staan ook voor sy leër. Almal is gereed vir aanval. Debóra draai na Barak. “Wees gereed. Vandag gee die Here Sísera in jou hand. Trek die Here nie voor jou uit nie?” Met die woorde as bemoediging gee Barak die aanvalskreet. Barak en die hele leër trek teen Tabor af in aanval! Die Here het elke soldaat van Sísera vooruit verwar. tussendeur die hewige geveg het elke man van die leër van Sísera gesneuwel onder die swaard. Sísera het van sy perd afgeklim en te voet gevlug!

Toe Sísera by die tent van Jael aankom het Jael hom gesien en tegemoed gehardloop en aan hom gesê “Sísera, draai uit my heer, draai uit. Moenie bang wees nie.” Sísera het oombliklik uitgedraai en by die tent ingegaan. Hy was verskrik deur dit wat gebeur het. Hy was dors. Jabin se slaaf gooi ‘n kombers oor Sísera, sy maak ook die melksak oop sodat hy daaruit kan drink. Hy sluk hard en dorstig. “Gaan staan by die tentdeur, as iemand vra of hier iemand is, sê net nee.”  Sísera is moeg. Die doodslaap na die adrenalien is uitlokkend. Hy gaan lê opgekrul in die fetusposisie op die vloer. Toe Jael, die vrou van Heber sien dat hy vasslaap, vat sy ‘n tentpen en hammer in haar hande. Haar hele liggaam bewe. Sy stap nader aan Sísera. Dan druk sy die punt van die tentpen op sy slaap en gee een harde hou met die hammer. Op daardie wyse penetreer die tentpen sy slape en word hy bewusteloos en sterf.

Israel het na die oorwinning die koning van Kanaän uitgeroei onder leiding van ‘n vrou. Profetes gesalf deur die Here.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s