Tien Strawwe – Deel 3

Dit is nog donker toe Moses en Aäron opstaan. Hulle gaan vandag wèèr na Farao. “Moses, jy is al tagtig en ek drie en tagtig. Waarom is jy so aanhoudend? Farao gaan mos nooit die volk laat gaan nie.” Aäron begin twyfel. Hy tuur by die venster uit terwyl Miriam hul kossak pak. Moses stap nader aan Aäron en sit sy hand op sy broer se skouer. “Ek is ernstig hieroor omdat ek ons lewende God ontmoet het. Ek is ernstig hieroor omdat ek gesien het dat Hy ‘n verterende vuur is en tog het die bos nie uitgebrand nie. Hou goeie moed. Farao sal die volk laat gaan, maar eers moet hy boet vir die sondes van Egipte.”

Moses staan weereens voor Farao in sy troonkamer. “Gee jy nie op nie Moses? Ek gaan nie jou volk laat gaan nie.” “Nie my volk nie Farao. God se volk.” “Ek het jou gesê Moses, ek ken nie jou God nie.” “Nou maar goed. Aangesien jy jou hart verhard Farao. Die God van die Hebreërs het my hierheen gestuur sodat hul kan trek emn Hom in die woestyn dien. Aangesien jy hulle nie wil laat trek nie sal ek hierdie staf op die water van die Nyl slaan en die water sal bloed word. Die visse sal vrek en dit sal baie stink.” Farao staan op van sy troon. Hy kyk Moses stu aan. “Nou maar goed Moses. Ek verstaan jy wil weer een van jou towerkunsies; hoe noem jy dit? Wonderwerke doen. Kom ons gaan af na die Nyl rivier saam met my towenaars, dan kyk ons wat gebeur.”

Die water vloei rustig verby die paleis van die Farao. Eenkant wei beeste in die veld en in die verte kan Moses sien hoe word die volk tot die dood gedryf. Moses gee die staf oor aan Aäron. “Neem die staf broer, steek jou hand uit oor die waters van die Egiptenaars, oor hulle strome, hulle kanale, hulle waterkuile en oor al hulle versamelplekke van water, sodat dit bloed word: daar sal bloed in die hele Egipteland wees, ook in hout— en in klipbakke..” Aäron het so gemaak. In een oomblik het alle moontlike water in Egipte in bloed verander. Almal wat in die water was, besig om voedsel voor te berei, vis te vang of besig was om water te drink het meteens die reuk van die bloed geruik. Die reuk van bitterheid. Bloed wat sondig gegiet is oor die vloer van Egipte aan die hand van Farao en sy voorgangers. Die visse het meteens gevrek en na die oppervlak gedryf. Die reuk van dood het in die lug gehang en dit het gestink. Farao het verstom gestaan. Hy het sy towenaars nader geroep. “Wys vir my hoe mens dit doen.” Die towenaars het vorentoe getree, ‘n beker bloed geskep uit die Nyl en dit weer in water verander. Toe neem die een sy staf en steek dit uit oor die beker en die water het weer bloed geword. “Nee wat Moses. Die volk bly net hier.” Oral om die Nyl het Egiptenare gegrawe vir water. Hulle was dors, maar hulle kon nie die bloed drink nie. Farao het weer sy hart verhard en al die water in Egipte was Bloed vir sewe dae lank. Moses en Aäron het gedink die week sonder water sou Farao van plan laat verander, maar dit het nie.

Moses het weer by die Here gaan raad vra. “Moses, sê vir Farao hy moet my volk laat trek sodat hulle my kan dien. As hy hulle nie laat gaan nie sal ek sy hele land teister met paddas wat oral sal wemel.” Moses het opgestaan. Gestig deur die teenwoordigheid van God. Vol moed en selfvertroue het hy en Aäron weer voor Farao gaan staan. “Wat is dit nou weer Moses.” Farao vryf sy slape. Hy het ‘n drukkende hoofpyn van die hitte en bedompigheid. Die water kwessie is pas opgelos, maar nou is Moses weer voor hom. “Farao. God het my gestuur. Die God van die Hebreërs. Van Abraham, Isak en Jakob. Laat Sy volk gaan sodat hulle hom kan dien. As jy nie doen nie sal Hy die hele Egipteland laat wemel van paddas.” Farao grinnik. “Ai Moses. Leer jy dan nie? Kom laat ons na die Nyl gaan.” Moses gee die staf oor aan Aäron. “Neem die staf en steek jou hande uit oor die Nyl. Dan sal al die paddas uitkom en die land van Egipte deurtrek. Aäron het die bevel van die Here gehoorsaam deur die mond van Moses. Paddas van alle soorte en kleure en grootes het by die Nyl opgekom. Hulle het oor die grond van Egipte gespring, gekruip en gehop. Oral deur Egipte was paddas. In die beddens. In die kospotte en op die marmer vloere van die paleis van Farao. Die towenaars van Egipte het nader gestaan en weereens, dieselfde gedoen…

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s